Tex de Swardt


Tex de Swardt is ‘n man van in sy tagtigerjare, maar sy geesdriftige uitkyk op die lewe maak hom ‘n baie gewilde en besondere klublid by Stellenbosch.

Hierso is my onderhoud met hom:


Vraag:  Waar was jy op skool en watter sportsoorte het jy op skool beoefen?

De Swardt:  Ek was op Outeniqua op skool en het aan omtrent al die sportsoorte deelgeneem.  Boks was in daardie jare (die vyftigs) nogals ‘n prominente sportsoort en ek het ook ‘n titel of twee in boks verower.


Vraag:  Hoe is jy aan gholf bekend gestel en hoe oud was jy?

De Swardt:  Ek was 45 jaar oud en woonagtig op Vredendal toe ek een van die stigterslede van die gholfklub op daardie dorp was.  Ons het die oliesetperke gebou en daar in die stof het ek begin om vir die eerste keer gholfballe te slaan.

Vraag:  Van wanneer af is jy lid by die Stellenbosch-gholfklub?

De Swardt:  Ondanks onderbrekings (verhuisings na die Strand en Hermanus) is ek 27 jaar lid van Stellenbosch klub


Vraag: Saam met wie het jy gereeld gespeel as nuwe lid by die Stellenbosch-klub en was daar dinge van gholf wat jy by hulle geleer het?

De Swardt: Ek het saam met baie ou pelle gespeel waarvan die meeste reeds  "weg" is  – ouens soos Len Olivier, Derick Pienaar, Eric Bartel asook  Mike de Vries.  Twee van my ou pelle Tallies (Taljaard) en Loupie (Johan Loubser) is darem nog met ons! Ek het by die manne heelwat geleer van die etiket en reëls van die spel asook hoe om lyne te lees op die setperke – vanwaar ek gekom het (Vredendal) was lyne nie ter sake op die oliesetperke nie!


Vraag:  Elke sportklub het 'n klompie karakters - vertel ons van die karakters wat jy deur die jare by die Stellenbosch-klub leer ken het.

De Swardt: Lyk my hoe ouer hulle word, hoe meer ontwikkel hulle as karakters, Ek het goeie herinneringe aan Oom Louis du Plessis, wat sommer op sy pens gelê het om my (met my 24-voorgee) te help met die lyn van my sethou. Edwin se pa, Dirk Hertzog, se beleid was dat jy sy wengeld in die storte gee, maar die kortgeld (wat daardie dae 5 of 10 sent was) moes jy in die kroeg gee sodat die ouens dit kon sien. Hentie Kruger het sy stok een keer so ver gegooi dat hulle dit eers die volgende dag gevind het! En natuurlik Jack Thirion.  Jack is vandag nog net so ‘n groot karakter en sy danspassies met elke sethou (mis of in) sal vir Fred Aistaire  ‘n   “go” gee.


Vraag:  Toe jy nog by die Universiteit van Stellenbosch gewerk het, is jyself allerweë beskou as een van die "karakters" by die US en jy het 'n besondere verhouding met Afrikaanse musiek nog altyd gehandhaaf.  Vertel ons meer daarvan.

De Swardt:  Die US vir wie ek verteenwoordig het, was die moeite werd om lojaal voor te wees. Ek kon in my betrekking  my liefde vir my Alma Mater uit dra na duisende oud-Maties by saamtrekke.  Met die veranderings op baie terreine (soos byvoorbeeld Intervarsity) het baie dinge verlore gegaan   Studente het nie meer gesing nie, in elk geval nie dit wat oor baie jare deel was van Intervarsity nie. Selfs die Universiteitslied het verdwyn. Op 'n dag het ek 10 oud-Maties bymekaar gekry en ongeveer 20 Matieliedjies met mooi professionele begeleiding op 'n CD gesit Sommer 'n paar self geskryf en uiteindelik meer as 2 000 verkoop. Ek kan nie sing nie maar is baie lief daarvoor en daar gaan nie 'n dag verby dat ek nie sing nie!


Vraag:  In jou werk by die US het jy baie te doen gehad met oud-studente asook saamtrekke van oud-Maties.  Is daar ooit gholf gespeel by daardie oud-Maties-saamtrekke?

De Swardt: Gholf was nie 'n integrale deel van die saamtrekke nie - behalwe as Prof Mike de Vries die gasspreker was. Dan het ek gewoonlik vir ons 'n “game” gereël – onder meer op Bethlehem. Wat van belang is, is die feit dat ek en Ernie  Blommaert in die tagtigerjare die oud-Matie-gholfklub hier in die Suide gestig het. Ons het ongeveer vier keer in 'n jaar gholfdae gereël.  In die 35-jarige bestaan van die klub het ons elke jaar vir verdienstelike Matie-gholfspelers (eerstejaars) beurse geskenk. Toe die klub einde verlede jaar ontbind het, het ons die restant van R275 000 aan die Maties se gholfklub geskenk.


Vraag:  Jy is ook bekend as 'n goeie storieverteller en daarom is dit sekerlik gepas dat jy 'n amusante staaltjie of twee met ons deel wat jy al op die gholfbaan beleef het.

De Swardt: Ek speel een keer in ‘n beterbal-kompetisie saam met Tallies Taljaard -  hy ‘n enkelsyfer-speler en ek ‘n 25-voorgee-speler. Op die 17de putjie is ek vir die eerste keer in 'n posisie om 'n bydrae tot ons telling te maak.  Ek voel goed en vra hom watter yster moet ek slaan na die setperk.  Christen-mens wat hy is, was hy seker op daardie stadium al so moedeloos met sy maat dat hy sê:  “Kies enige stok in jou sak wat jy die beste slaan en moer hom!" ‘n Ander staaltjie was met Loupie Loubser.  Ek is die maand vir die eerste en die laaste keer ‘n 12-voorgee.  Ek kry vir Loupie op die bof en hy vra my wat my nuwe voorgee is. Plaas dat ek my bek hou, gooi ek my lyf nogal so effens skeef agteroor en sê TWAALF. Natuurlik het hy seker geweet of gedink dat die voorgee nie reg is nie.  Hy kyk so ver oor die veld, kyk af na my en sê:   " Ja, julle sal vandag maar swaar kry!” En hy is boonop nog ‘n vriend van my!

Wat my storievertellery betref - ja ek doen dit.  Ek het al my eerste bundel  gepubliseer en is tans op die punt om die tweede een klaar te maak


Vraag:  Het jy jouself leer speel of het jy vir lesse gegaan?

De Swardt:   Ek het maar self geleer, maar daar was darem pelle van my op Stellenbosch wat my gehelp het asook natuurlik Sakkie (Pro) van Biljon.  Ek het darem een keer ‘n les by die bekende beroepspeler Cobie le Grange gehad.


Vraag:  Wat is jou gunsteling putjie op die baan?

De Swardt:  Die 7de putjie is my gunsteling.


Vraag:  Wat is vir jou die mees uitdagende putjie?

De Swardt:  Die 9de putjie is vir my die moeilikste.  Slaan ek kort, is ek in die kuil.  Slaan ek harder – dan is ek oor.  My bal wil maar net nie op daardie putjie op die setperk beland nie!


Vraag:  Is daar enige baan-veranderinge wat jy graag sou wou sien?

De Swardt:  Die twee sandkuile op die 9de putjie maak hierdie gat onnodig moeilik.  Maak ten minste die groot sandkuil kleiner.


Vraag:  Watter ander bane in Suid-Afrika wat jy gespeel het, staan uit by jou en hoekom?

De Swardt:  George (my tuisdorp) se baan is vir my ‘n juweel.  Hermanus se baan is ook besonders – veral die natuurskoon.  Kleinmond staan ook uit want jy kan die see vanaf elke punt sien. As 'n mens die omgewing miskyk, verloor jy vreeslik baie vreugde en genot wat gholf jou bied.


Vraag:  Het jy al 'n kolhou behaal?

De Swardt:  Nee – nog nooit nie.


Vraag:  Laagste voorgee ooit?

De Swardt:  My laagste voorgee ooit was 12 en dit was ook die tyd wat Loupie soveel twyfel oor my vermoë as gholfspeler gehad het!


Vraag:  Huidige voorgee?

De Swardt:  Ek speel tot vervelings toe tellings tussen 88 en 98. Tans speel ek vanaf ‘n 22-voorgee en ek wen redelik gereeld van my maters se geld.


Vraag:  Wat beteken gholf as mens vir jou?

De Swardt: Gholf beteken vir my geweldig baie. Nie net oor my vriendekring nie maar ook in belang van my familie. Op my 70ste verjaardag het my twee seuns en  skoonseuns in 'n vierbal gespeel en die vierbal agter hulle het bestaan uit:  myself, my dogter en my twee kleinseuns. Dis nie slegs 'n voorreg om gholf te kan speel nie – dit is ‘n seën van Bo.