Melanie Frylinck

Een van Stellenbosch-klub se gewildste vroue-lede Melanie Frylinck het ‘n passie vir die spel gholf.  Sy het baanbrekerswerk vir vroue-gholf gedoen toe sy by die Atlantic Beach-klub gewerk het, en is vandag ‘n kundige ten opsigte van gholf-toerusting.

Hier volg my onderhoud met haar:

Vraag: Was jy lief vir sport op skool en aan watter sportsoorte het jy deelgeneem en wat was jou beste sportprestasies op skool?

Frylinck: Ek het op skool  netbal gespeel asook 'n bietjie aan atletiek deelgeneem.  Maar my eintlike passie was gholf.   Ek was 'n leerling van die HS DF Malan in Bellville en in daardie jare was daar nie meisies in die skool wat vir die skool se gholfspanne gespeel het nie.  Dit het nogals baie "guts" van myself gekos om my in te skryf vir 'n gholfspan.  Later het ek 'n prestasie behaal waarop ek baie trots was, naamlik toe ek die eerste meisie geword het om vir DF Malan se eerste gholfspan te speel.



 

Vraag:  Hoe oud was jy toe jy aan gholf bekend gestel is en hoe het dit gekom dat jy begin het met gholf?

Frylinck:  My pa het gholf gespeel en ek wou graag gholf speel vandat ek twee jaar oud was.  Ek onthou nog hoe ek al agter my pa aangeloop het met my plastiek-gholfstokkies....Toe ek 'n kind was, het jy nie sommer net iets gekry nie - geld was maar skaars en ek moes lank wag vir my eie gholfstokke.  Ek het op die ou end my oom se stokke geërf, sulke Eezi 3-ysters wat by Game gekoop is.  Ek was al toe in standerd 7 - 15 jaar oud.  Ek onthou nog so goed ek het voordat ek gholfstokke gehad het, altyd 'n gat in 'n skoenboks gesny, hom onderstebo in die gang gesit en met my stiefpa se "putter" in die gang af ge-"putt" in die boks in....vir jare was dit die naaste wat ek aan gholfspeel gekom het....


Vraag:  Het jy gholflesse gehad in die begin of het jy maar jouself geleer?

Frylinck: My stiefpa het gholf gespeel, en dit was 'n passie wat ons gedeel het.  Hy het my gevat vir lesse by die gholfpro Peter Munno, wat op daardie stadium lesse gegee het by Kuilsrivier se "Driving Range."  Dit het maar gesukkel aan die begin en ek het eers 'n hele paar "freshies" geslaan!   Toe ek later as 'n jong meisie by die Parow-klub gespeel het, is ek aan die diep kant ingegooi.  Ek moes saam met die tannies op 'n Saterdagoggend voor die mans afslaan.  Hulle het my alles geleer van die spel - die reëls en die etiket - op die harde manier.


Vraag:  Hoogtepunte as 'n junior gholfspeler?


Frylinck:  Ek was baie trots toe ek in die BMW-kompetisie die C-afdeling op Royal Cape gewen het.  Ek het nou nog die blompot wat ek ontvang het! 'n Ander hoogtepunt was toe ek die B-afdeling gewen het by Parow-gholfklub se  dames-klubkampioenskappe.


Vraag:  By watter klub was jy eerste keer 'n lid?

Frylinck: Parow-gholfklub


Vraag:  Van wanneer is jy lid by Stellenbosch-klub?

Frylinck:  Ek is nou al 5 jaar 'n lid.


Vraag:  Jy speel ook liga-gholf vir Stellenbosch-klub.  Wat maak dat jy die liga so geniet en wie is die karakters onder jou spanmaats?

Frylinck:  Ha ha ha....die vraag is eintlik -  wie is nie karakters nie!  Ons was op 'n stadium die dwergie-span asook die tuindwergies... Carol van Niekerk se blink gedagte!  So almal het toepaslike name gekry - name soos Mollie en Blommie !  Alles wat klink soos dwergies!  My eie naam was  Sementkoppie, want ek weet glo nie altyd so lekker wat aangaan nie!! Almal speel hul harte uit, maar lag net so uit hul harte uit en ons het hope pret.


Vraag:  Jy het ook  onlangs 'n kolhou behaal op Stellenbosch se baan. Vertel ons meer daarvan.

Frylinck:  Dit was op die 9de putjie tydens ons dames-afdeling se openingsdag-toernooi.   Die afstand was 91 m na die pen met 'n wind van voor.  Ek het die bal met my wigyster (PW) tot in die putjie geslaan. My maat in hierdie toernooi was Lente Botha en ons was ook die wenners van die dag met 47 stableford-punte.  Die toernooi is deur Viljoen Juweliers geborg en ons het 'n heerlike ete gehad met lekker  wyn.  Ons het die aand afgesluit met 'n lekker gedansery.


Vraag:  Dit gaan baie goed met vroue-gholf by die Stellenbosch-klub.  Wat is volgens jou die belangrikste redes hoekom dit so goed gaan met vroue-gholf by Stellenbosch. 

Frylinck: Gees, gees en nogmaals gees.  Die Stellenbosch-vroue is soos 'n familie - hulle wil pret hê, hulle gholf geniet en is trots op hulle klub, en sit hart en siel in om dit vir almal mooi en lekker te maak. Die vroue-komitee werk baie hard as 'n span saam en lewer daardeur 'n groot bydrae, maar wat ook bydrae tot die puik klubgees is dat elke dameslid by die klub se opinie as belangrik geag word. En dan natuurlik kan 'n mens nie genoeg beklemtoon hoeveel Louis Destroo en sy span se ondersteuning vir die dames beteken nie, en dit is lekker om te weet hulle is ook trots op ons.


Vraag:   T.o.v. jou gholfloopbaan - wat is jou hoogtepunte tot dusver?

Frylinck:  Ek het nou nie juis 'n gholfloopbaan nie -  ek is maar 'n gemiddelde gholfer...ek het eerder 'n loopbaan in gholf. Een van my hoogtepunte in my loopbaan in gholf was toe ek die dames-afdeling by Atlantic Beach-gholfklub begin het.  Dit het vir my baie bevrediging gegee om te sien hoe die dames-afdeling by Atlantic Beach gegroei het, en die klub se eerste Dames Ope-dag (wat ek gereël het) was vir my persoonlik 'n baie groot oomblik.
'n Ander hoogtepunt is my loopbaan in gholf is om tans deel te wees van The Pro Shop-span waar ek my passie vir gholf in 'n ander rigting instuur - in die tegnologie van gholfstokke.


Vraag:  Watter putjie op die Stellenbosch-baan is vir jou die mees uitdagende ene en gee jou redes?

Frylinck:  Seker die 6de putjie....ek kan nogal die bal goed "duff" reg deur daai draad by die hoek van die ou wingerd!


Vraag:  Wie is jou moeilikste liga-teenstanders by die Stellenbosch-klub en gee jou redes hoekom hierdie opponente so moeilik is om te klop?

Frylinck: Defnitief Paarl-gholfklub - hulle is goeie gholfers wat al jare en jare gholf speel.  Baie van hulle het provinsiaal gespeel, hulle is taai en gee nie sommer op nie en hulle gebruik baie taktiek as hulle, hul spanne saamstel....daar is altyd vir ons 'n verrassing.  Maar tog kom ons verskriklik goed met hulle oor die weg en is hulle vir ons soos familie Die dames van Stellies speel baie saam met hulle in gholfdae of gaan saam met hulle op gholftoere.


Vraag:  Buiten Stellenbosch - wat is jou ander gunsteling bane?

Frylinck: Atlantic Beach sal altyd een bly asook bane soos  Erinvale en Clovelly, Hermanus en Arabella.  Ek het wonderlike herinneringe van Kleinmond se baan as 'n kind en daarom sal ek Kleinmond ook insluit in hierdie groep.


Vraag:  Laagste voorgee ooit?

Frylinck:  6


Vraag:  Huidige voorgee?

Frylinck: Nou pas gesny na 'n 14....grrrr!!!!


Vraag: Laagste bruto telling ooit op Stellenbosch?

Frylinck: 78


Vraag:  Laagste bruto telling op enige ander baan?

Frylinck: 75 op Atlantic Beach


Vraag:  Jy het die gholfindustrie as beroep gekies.  Waar het jy vir die eerste keer in die gholfindustrie begin werk?

Frylinck: Ek het eintlik in die bankwese gewerk nadat ek geswot het....toe werk ek vir 'n klein rukkie by Parow-gholfklub en daarna by Atlantic Beach....


Vraag:  Wat was jou verantwoordelikhede by Atlantic Beach en wat is grootste lewenslesse wat jy daar geleer het by Atlantic Beach?

Frylinck: Ek het by Atlantic Beach begin werk net nadat die baan klaar was - die klubhuis was nog nie gebou nie en daar was nog net 3 huise.  Ek het alles gedoen - toebroodjies verkoop, besprekings gedoen,  "golf spikes" geruil -  alles alles alles!!!  Ek het daar geleer wat dit is om hard te werk sonder met amper geen tyd af nie.  Ek het daar geleer om alles in te sit in jou werk en altyd 'n doelwit te hê - nie  soos die kinders van vandag wat alles volgens hulle terme wil hê nie.....hoe oud voel ek nou!! Ek was op die ou end die bestuurder van Atlantic Beach se "Pro Shop" en het dit bestuur en al die klere-aankope ens. beheer.  Ek was ook in beheer van die klub se damesafdeling en was ook hulle dameskapteine vir 5 jaar.


Vraag:  Jy werk tans by The Pro Shop in Somerset-Wes en is 'n kundige wat gholftoerusting  betref.  Ten opsigte van gholftoerusting vir vroue - wat is die belangrikste aspekte waarna vroue moet kyk wanneer hulle gholftoerusting koop?

Frylinck:  Daar is te veel vrouens wat dink omrede hulle vanaf 'n hoë voorgee speel,  verdien hulle nie beter gholftoerusting nie.  Hierdie groot groep vroue het stokke in hul sak van 1900-toet en sommige het selfs hul man se ou dryfstok in die sak! Met nuwe en die regte toerusting in hul sak, sal hul voorgee nie net afkom nie, maar sal hulle ook die spel baie meer geniet.  Ek het onlangs 'n dame met nuwe gholfstokke ge-"fit" en sy het die bal met haar nuwe ysters 30m verder as die oues geslaan en met haar drywer amper 70 m verder.  Haar man was so opgewonde - hy het op en af gespring op die oefenbof.  Verder koop te veel dames sommer net die “algemene” dames-stokke.  Indien hulle reg ge-"fit" was, sou dit beteken dat hulle dalk eerder baie beter sou vaar met bv. "regular"-stele of senior grafiet-stele – of selfs langer stokke. Dames moet besef hulle verdien die regte toerusting.


Vraag:  Het gholftoerusting vir vroue baie verbeter deur die jare?


Frylinck:  Dit het baie verbeter.  Voorbeelde hiervan is die nuwe Ping- en TaylorMade-produkte.  Vroue kan nou dieselfde voordele geniet wat nuwe tegnologie al jare aan mans bied.  Ping het tot so 3 jaar gelede hoofsaaklik stokke geproduseer met die fokus op "foregiveness" - sodat vroue die bal maklik in die lug kon kry.  Die nuwe Ping-produkte vir vroue is werklik "awesome" en vroue kan met daardie toerusting dieselfde "playability"-eienskappe kry as wat die mans reeds vir jare kon geniet.  Ook is balle met 'n laer kompressie 'n groot voordeel vir vroue - selfs die mans speel met hierdie balle en kry uitstekende resultate.  


Vraag:  Gholf as 'n spel - wat beteken dit vir jou as mens?

Frylinck: Gholf is vir my soos die lewe, dis partykeer onregverdig, maar jy leer altyd iets daaruit, partykeer is jy gelukkig en dan vat jy dit met 'n "smile".  Nes die lewe het dit reëls wat dit regverdig vir almal maak.  Dit het etiket nes jy in die lewe jou medemens met respek moet behandel.  En die belangrikste van alles:  "If you cheat on the golf course you will cheat in real life...."  Om gholf te speel is 'n vir my 'n passie, maar my eintlike passie in gholf is om beginners te help om die spel te speel asook die reëls te leer ken.   Dit is wat ek so baie by Atlantic Beach geniet het - ek het die tyd en geleentheid gehad om dit te doen. Ek het ure en ure daarin gesit om saam met die dames 9 gate te gaan speel aan die begin en hulle te ondersteun en te leer.    As ek die tyd gehad het sou ek dit elke dag van my lewe wou doen.