Die Stellenbosse klublid Coenie Snyman het die afgelope jare naam gemaak as een van die top-wynmakers in die Stellenbosch-area.
Snyman is sedert 2006 Rust-en-Vrede se wynmaker en is in 2009 as die Diners Club se Wynmaker van die Jaar aangewys vir die Rust en Vrede Cabernet Sauvignon 2007 wat hy gemaak het.
Lees verder in hierdie onderhoud wat gholf vir Coenie beteken asook van watter wyne by die klub hy van hou.
VRAAG: Het jy op skool gholf gespeel en aan watter sportsoorte het jy deelgeneem?
SNYMAN: Nee, wel bietjie krieket en rugby op Paul Roos gespeel.
VRAAG: Hoe het jy met gholf kennis gemaak?
SNYMAN: Ek en ‘n ander studentemaat het in Kalifornië, VSA, gaan werk en tydens die pars-seisoen het hy my saamgesleep na die gholfbaan.
VRAAG: Het jy jouself geleer gholf speel of was daar 'n mentor/afrigter?
SNYMAN: As ek sou kon gholf speel was dit maar redelik spontaan. Ek luister gelukkig na goeie raad van my mede-spelers.
VRAAG: Van wanneer is jy lid van die Stellenbosch-klub?
SNYMAN: 1998?
VRAAG: Wat is vir jou die moeilikste putjie op die baan en hoekom speel hierdie putjie vir jou moeilik?
SNYMAN: Die 5de putjie. Op hierdie putjie moet jy drie goeie houe slaan anders teken jy maklik ‘n “double bogey“ aan.
VRAAG: Wat is volgens jou die beste syfer 5 op die baan?
SNYMAN: Stellenbosch se 14de putjie was met die baie hoë bome voor die setperk ‘n baie moeilike syfer 5, maar omrede van die bome nou weg is, is dit effe makliker. Daar is nou meer “bail-out“ plekke sodat jy jou foute kan regmaak. Dit bly egter ’n uitdagende putjie.
VRAAG: Wat is ander gunsteling-gholfbane van jou en gee jou redes hoekom jy van die bane hou?
SNYMAN: Die Links op Fancourt. Die baan se uitleg is uitstaande en verder bied hierdie baan vir ‘n speler geweldige uitdagings. Verder beindruk die kwaliteit van die caddies op die Links ook my altyd. ‘n Ander baan waarvan ek hou is SanLameer. Dit is ‘n baan wat jou dwing tot ‘n ander benadering – jy kan nie net “moer en soek“ nie!
VRAAG: Wat is jou opinie van die nuwe draadheining op die grense van die baan?
SNYMAN: Bietjie duur, maar noodsaaklik. Dit hou ‘n paar balle binne en hou ‘n paar balle buite (6de).
VRAAG: Meen jy daar is onduidelikheid by jouself en ander klublede wat is die reël wanneer jou bal teen-aan of naby die draad-heining beland?
SNYMAN: So ver ek weet moet jy dit speel soos dit lê of “drop.”
VRAAG: Wat is jou opinie van die klubreël dat geen gratis afgooi nou toegelaat word vanaf paadjies (uitgesluit teerpaadjies) nie?
SNYMAN: Dit haal die “intent“ van die persoon wat wil “drop“ uit die spel uit. Verder maak hierdie reël spel ook vinniger.
VRAAG: Wat is die gunsteling gholfstel waarmee jy al ooit gespeel het?
SNYMAN: Ek is nie baie tegnies oor my gholftoerusting nie. My drywer is ‘n bloue en ek dink ek speel met TaylorMade Rac-ysters.
VRAAG: Meen jy 'n ronde gholf het vinniger geraak nadat die nuwe gholfreëls op 1 Januarie vanjaar begin geld het.
SNYMAN: Ek meen tog dit help om spel vinniger te maak.
VRAAG: Wat is jou laagste voorgee ooit?
SNYMAN: 9
VRAAG: Wat is jou huidige voorgee?
SNYMAN: 9
VRAAG: Wat is die laagste telling wat jy al op Stellenbosch behaal het?
SNYMAN: 77
VRAAG: Enige kolhou behaal?
SNYMAN: Nog nie.
VRAAG: Jy is 'n top-wynmaker van die Stellenbosch-area - watter wyne by die klub is vir jou spesiaal en is jou gunstelinge?
SNYMAN: Uit die aard van die saak ondersteun ons onsself met Rust en Vrede en Stellenbosch Reserve.
Op ‘n warm dag is ‘n Simonsig Chenin ook ’n gunsteling, terwyl ons ook graag ‘n Le Riche op ‘n koue dag geniet.
VRAAG: Watter pizza by die klub gaan die beste saam met 'n lekker Rust en Vrede rooiwyn?
SNYMAN: Black - maak hulle dit nog? Asook die Caprissosa.
VRAAG: Wie is jou moeilikste teenstanders op die baan?
SNYMAN: Ek sukkel gewoonlik eintlik meer @ myself.
VRAAG: Wat is dit van gholf waarvan jy hou en wat beteken die spel vir jou as mens?
SNYMAN: Dit gee my die geleentheid om ‘n bietjie tyd met myself asook ander lekker ouens te spandeer. Ek dink aan niks anders as wat nou op die golfbaan gebeur nie. Die spel word in so mooi omgewing gespeel en dit skep bietjie waardeering vir al die voorregte wat ons het.