Basil Bergstedt is baie lief vir gholf en die Stellenbosch-gholfklub. In my onderhoud met hierdie 79-jarige boorling van Stellenbosch kon ek duidelik sien sy geesdrif vir die spel gholf – dit het behoorlik uitgestraal by hom gedurende ons gesprek.
Basil is waarskynlik die oudste lewende oud-caddie van Stellenbosch-gholfklub en as kind het hy ook op die ou baan (in die middedorp gespeel)
VRAAG: Hoe het alles vir jou begin met gholf?
BERGSTEDT: My ouerhuis was baie naby die ou Stellenbosch-gholfbaan (daar waar die huidige US Ingenieursfakulteit geleë is). Toe hulle oorgeskuif het na die huidige baan buitekant die dorp (waar die huidige baan vandag staan) het ons jong klomp op die ou baan gespeel. Daar was nog ‘n paar putjies oor voordat hulle die plek toegebou het.
VRAAG: En jou eerste verbintenis met die huidige baan en klub?
BERGSTEDT: Ek het as 12-jarige begin om te caddie op Stellenbosch. Dit was lekker dae en die geld was goed. Ons is 3 sjieling betaal en in daardie dae kon jy sommer baie goed, insluitende ‘n groot klomp vleis, koop met 3 sjieling. Ek was van jongsaf ‘n broodwinner vir ons gesin en het ge-caddie totdat ek 18 jaar oud was. Toe het ek begin werk in ‘n motorfabriek.
VRAAG: Vir wie het jy gereeld sak gedra?
BERGSTEDT: Ek het baie lank Louis du Plessis se sak gedra. Sy motorplaat-nommer was CL 636 en almal van ons het hom CL636 genoem! Hy was ‘n goeie man en ‘n goeie speler en wanneer hy in toernooie soos byvoorbeeld op Hermanus gespeel het, het hy my saamgevat.
VRAAG: Het jy ooit gholflesse gehad?
BERGSTEDT: Nee, wat! Maar ons het baie by James Newman geleer. Hy kan enige soort hou speel en ons het altyd maar gekyk hoe hy dinge doen.
VRAAG: Hoe het dit gekom dat jy lid geraak het van die gholfklub?
BERGSTEDT: In daardie jare kon ons (bruinmense) op baie min bane speel en ek het maar gaan speel op Devonvale – ons kon wel daar speel. Een keer tydens die Stellenbosch-klubkampioenskappe het ek vir James Newman sy sak gedra. In die driebal was ook Tienie Hendriksz en Dewald Botha. Kort daarna het ek aansoek gedoen om lid te raak van die klub en James, Tienie en Dewald was die manne wat my aansoek skriftelik ondersteun het. Ek was eers ‘n 5-dag-lid en later ‘n vol-lid.
VRAAG: Laagste voorgee ooit?
BERGSTEDT: 12
VRAAG: Huidige voorgee?
BERGSTEDT: 18.2 indeks
VRAAG: Laagste telling al gespeel op Stellenbosch-baan?
BERGSTEDT: Kon darem al 80 breek met ‘n 79.
VRAAG: Al ‘n kolhou behaal?
BERGSTEDT: Ja, dit was op die 7de putjie en onder andere het Basil Muller en Reeve Cyster saam met my gespeel. Ek het daardie kolhou tydens ‘n groot korporatiewe dag behaal en die klubhuis was gepak met al die mense. Ek het gewonder hoeveel dit vir my gaan kos om vir al hierdie mense ‘n drankie te koop, maar die destydse klubkaptein, Evert Nel, het hom oor my ontferm en gesê hy gaan eers die klok (vir die gratis ronde drankies!) lui wanneer die meeste mense weg is. Toe slegs “die gewone ouens“ oor was in die kroeg is die klok gelui en ek het lekker saam met die manne my kolhou gevier!
VRAAG: Hoogtepunte in jou gholfloopbaan?
BERGSTEDT: ‘n Groot hoogtepunt was toe ons vierbal die Eikestad Classic gewen het. Benewens myself was Tony Gordon, Peter Cyster en Gilmour Hendrickse in ons vierbal. Ek speel altyd in die Classic en geniet dit baie.
VRAAG: Wat is vir jou die moeilikste putjie op die baan?
BERGSTEDT: Ek sal twee putjies uitsonder. Die 4de is baie moeilik omdat die skoonveld so nou is en dit die hele pad opdraende is. Die 6de putjie is natuurlik ‘’n Meneer van ‘n Putjie”. Ek moet maar altyd kort speel met my tweede hou.
VRAAG: In jou jare as ‘n caddie – watter putjie het die spelers baie moeilikheid gegee asook vir jou as die caddie?
BERGSTEDT: Die 8ste was nog nooit ‘n maklike putjie vir beide speler en caddie nie. As ’n speler kan jy die ball “out of bounds” slaan of regs slaan en dan beland jy in die ruie bosse. Die ruveld regs van die 8ste se skoonveld was in my jare as ‘n caddie vol bosse en volop dorings. Ek het baie kere dorings in my lyf gekry wanneer ek vir die bal moes soek in die ruveld.
VRAAG: Wat is jou gunsteling-putjie?
BERGSTEDT: Ek het ‘n goeie verhouding met die 7de putjie?
VRAAG: Ander gunsteling-bane?
BERGSTEDT: Ek hou baie van Hermanus. Ek was ook ‘n klompie jaar gelede deel van ‘n groep wat Thailand besoek het – in die groep was onder meer Stellenbosch-lede soos Tony Gordon en Basil Muller. Ons het op die toer elke dag gholf gespeel – te lekker! Wat baie interessant was, was dat twee van die bane elkeen ‘n syfer 6-putjie gehad het. Daai putjies is omtrent ‘n paar myl lank!
VRAAG: Wat beteken gholf as mens vir jou?
BERGSTEDT: Ek kan eenvoudig net nie wegbly vanaf die gholfklub nie – ek is te lief vir die spel en die plek! Net woeste reën sal my weghou van die baan. Ek het ook onlangs ‘n kwaai siekbed gehad en daarna waardeer ek gholf nog meer.
VRAAG: So dit moes baie moeilik vir jou gewees het om nie te kon gholf te speel weens die Covid-19 inperk-periode?
BERGSTEDT: Ja, dit was. Maar toe ons weer kon begin speel was dit baie lekker. Dit het net snaaks in die begin gevoel om te speel en dan dadelik in jou motor te klim en alleen huis toe te ry.