Die “warmste kombinasie” van 2017 was Gerhard Beukes en Dewald Cloete. Hierdie kombinasie het laasjaar die Winter Uitklopkompetisie verower asook die Group One Nissan/Renault 2017-kompetisie. Verlede week het ek met Gerhard Beukes gesels en vandeesweek vertel Dewald Cloete hoe hy sy gholf geniet op Stellenbosch.
VRAAG: Waar was jy op skool?
CLOETE: Ek het skool gegaan op Tzaneen tot en met die ou standerd sewe en was daarna op Menlopark Hoërskool.
VRAAG: Watter sportsoorte het jy op skool beoefen?
CLOETE: Ek was hoofsaaklik ‘n swemmer, maar het ook skool tennis en krieket gespeel.
VRAAG: Hoe het dit gekom dat jy begin gholf speel het?
CLOETE: Ek was 23 jaar oud toe ek begin gholf speel het. ‘n Studente-vriend van my het genoem dat hy wil begin gholf speel net nadat ek ‘n ou oefenstel-gholfstokke by my swaer gekoop het vir R100. Ons het saam begin gholf speel en dit
was die begin van gholf in my lewe.
VRAAG: Het jy jouself geleer om te speel of het jy 'n "mentor" gehad?
CLOETE: Ek het ongelukkig myself geleer gholf speel en baie foute vasgelê is my swaai.
VRAAG: Wat het jou in die begin aangetrek tot die spel gholf?
CLOETE: Ek het ‘n vriend op laerskool gehad wat vir sy 10de verjaarsdag ‘n stel gholfstokke present gekry het. Ek het gedink dat hy die gelukkigste mens in die wêreld was, maar die Buiteklub was egter te ver buite die dorp gewees om gholf vir my ‘n opsie te maak. Ons het egter ons eie gholf gespeel in ons tuin en ander vriende se tuine.
VRAAG: Van wanneer af is jy lid by die Stellenbosch-klub?
CLOETE: Ek is sedert 1999 ‘n lid by Stellenbosch-gholfklub.
VRAAG: Hoe het dit gekom dat jy en Gerhard begin saam speel het?
CLOETE: Ek het vir Gerhard in 1996 op ‘n professionele basis ontmoet. Hy het gehoor hoe ek ‘n gholf-afspraak met ‘n ander
vriend maak, en toe ek vir hom vra of hy gholf speel en of hy wil saamspeel was hy baie ywerig en dit was die begin van ‘n lang vriendskap op en van die gholfbaan.
VRAAG: Komplimenteer jy en Gerhard mekaar se spel goed en wat maak julle so 'n gedugte kombinasie?
CLOETE: Ek dink my en Gerhard se spel komplimenteer mekaar goed omdat ons eerstens lief is vir die spel, en die uitkoms is minder belangrik as wat dit is om lekker gholf te speel. Ons plaas ook nie druk op mekaar as die een se spel die dag af is nie. Gerhard konsentreer beter op die baan as ek en dit maak van hom ‘n bestendiger speler as wat ek is – dit help baie in span-verband. Verder is ons spel ook maar net
werklik gedug as ons die dag werklik “warm” is!
VRAAG: Watter putjie(s) op die baan is die moeilikste vir julle as 'n tweebal. Hoekom is hierdie putjie(s) vir julle so 'n turksvy?
CLOETE: Ek dink die tiende putjie is die putjie waarop ons die minste punte aanteken. Die rede daarvoor is dat ons gewoonlik op die tiende afslaan, en ons warm as ‘n reël nie vooraf op die oefenbof op nie. Die putjie waarvoor ek die bangste is, is egter die 8ste putjie. Ek verloor die meeste balle met my afslaan op daardie putjie. My maat moet dan gewoonlik die kastaiings uit die vuur krap en hy het gewoonlik nie ‘n hou
op daardie putjie nie.
VRAAG: Lede wat al saam met jou en Gerhard gespeel het, meen een van die redes hoekom julle goed vaar as 'n tweebal is omrede julle die spel baie geniet - jou kommentaar?
CLOETE: Soos ek reeds genoem het, geniet ons die spel baie en dit is belangriker as om te wen. As jy gereeld genoeg speel, sal jy een of ander tyd wel wen.
VRAAG: Daar moes sekerlik 'n bietjie spanning gewees het voor die laaste ronde van die Group One Nissan/Renault 2017-kompetisie waar 'n motor op die spel was?
CLOETE: Ek het nie gedink dat ons ‘n kans het om die Nissan te wen toe ons in die laaste Nissan-kompetisie afgeslaan het nie. Die voorlopers het so konstant goed gespeel en ek het verwag dat hulle sal wen. Ons het ‘n besondere goeie dag gehad, as ek reg onthou het ons vierde of vyfde in die kompetisie van die dag geëindig en dit was genoeg om ons die motor te laat wen.
VRAAG: Geniet jy om met die motor rond te ry en hoe ervaar jy die motor?
CLOETE: Die motor se gebruik vir ‘n jaar tussen ons twee is die grootste prys wat ek nog gewen het, en die motor ry baie lekker. ‘n Baie praktiese voertuig om in die dorp mee rond te ry. Baie dankie weer eens aan die borge.
VRAAG: Julle het ook vanjaar nog 'n groot titel verower toe julle die kampioene was in die dubbels-afdeling van die Winter Uitklop-reeks. Wie was jul teenstanders in die finaal en was dit 'n tawwe finaal?
CLOETE: Ons het in die finaal van die Winter Uitklop-kompetisie teen Hugo Heunis en Fred Kiecks gespeel. Hulle is twee taai kalante en ek het nie verwag om te wen nie veral aangesien ek in die voorafgaande weke baie swak gespeel het en my gholf nie op ‘n hoogtepunt was nie. Gerhard het maar swaar gedra. Op die dag van die finaal het ons opponente nie ‘n goeie dag gehad nie. Ek het egter ‘n baie goeie ronde gehad en Gerhard was sy standvastige self.
VRAAG: Op pad na die finaal van die Winter Uitklop-finaal - wie was ook moeilike teenstanders gewees?
CLOETE: Vir my was die kwarteindronde teen Kobus en Pierre Boshof die moeilikste. Ek het baie swak gespeel en Gerhard het ons vir die volle 18 putjies alleen gedra en gelykop met ons opponente laat eindig. Met die uitspeel op die 19de putjie het ek genadiglik n syfer op die eerste putjie behaal wat ons laat wen het.
In die semi-finaal het ons die stryd gevoer teen Rikus Ferreira en Riaan Nieuwoudt, maar ek het ‘n baie beter dag beleef en ons het deurgegaan na die finaal toe.
VRAAG: Een van die lekker dinge van gholf is dat jy dit saam met jou familie kan geniet.
CLOETE: Dit is vir my baie lekker om die spel saam met my gesin te speel . Ek en my jongste seun Leon speel in ‘n Saterdag vierbal sedert hy in graad 10 was en my vrou het na jare se aanmoediging ook begin om gholf te speel sowat twee jaar gelede. Ons speel gereeld saam gholf na werk, oor naweke
en gedurende vakansies . Dit is ‘n wonderlike manier en plek om tyd saam te spandeer en te ontlaai na ‘n dag se werk.
VRAAG: Jy en Gerhard en jul gesinslede eet gereeld by die klub na prysuitdeling 'n pizza of wat by die klub. Wat is jul gunsteling pizza asook gunsteling wyn?
CLOETE: Stellenbosch Gholfklub se klubhuis is so gesellig en die personeel so vriendelik - dit is heerlik om na ‘n ronde gholf saam met ons gesinne ‘n pizza te eet en ‘n bottel wyn te geniet. My nuwe gunsteling pizza is die Vegetariese pizza saam met ‘n bottel Kleine Zalze Sauvignon Blanc. Dit en die wonderlike
uitsig op die gholfbaan in die laat-middag kom naby aan perfeksie.
VRAAG: Huidige voorgee?
CLOETE: My huidige voorgee is 14.
VRAAG: Laagste voorgee ooit?
CLOETE – 13, maar was maar kortsondig.
VRAAG: Laagste bruto telling ooit op Stellenbosch?
CLOETE: Ek het nog net eenmaal in my lewe 80 gebreek. Ek het in Desember 2016 ‘n 78 gespeel.
VRAAG: Wat beteken gholf as mens vir jou?
CLOETE: Behalwe dat gholf vir my ‘n baie lekker sport en oefening is, is dit ook soos die lewe is. Soms is dit moeilik, soms maklik, soms lekkerder as ander kere en soms voel dit onregverdig. ‘n Mens moet egter net al die verrassings wat die spel na jou kant toe gooi, hanteer. Oom Fuchs Kotze (toe 74 jaar oud ) het meer as 25 jaar gelede op die gholfbaan in Paarl vir my gesê al speel jy hoe gholf, moet jy altyd entoesiasties bly oor die spel, dit laat ‘n mens terugkom.