Op hierdie gebore Suidwester se gholf-CV is daar sommer baie hoogtepunte. Enkele van die prestasies sluit in:
• SA Universiteite kampioen;
• 3de plek by die Wêreld Universiteite-toernooi op St Andrews;
• Wenner van ‘n Duitse PGA-toernooi;
• 8 kolhoue en 2 albatrosse op sy kerfstok.
Francois Hanekom het as jong seun in Windhoek sy gholf geleer en was na skool student by Maties en het op Stellenbosch gespeel. Daarna was hy ‘n beroepspeler asook -afrigter.
Nou is hy weer terug in die Wes-Kaap en speel sy gholf vanuit die Stellenbosch-klub. Hierso is my volledige onderhoud met hom:
VRAAG: Hoe is jy aan gholf bekend gestel en hoe oud was jy?
HANEKOM: Ek was 7 jaar oud toe ek blootgestel is aan putt-putt aangesien my pa ’n kranige putt-putt-speler was. Ek het op 8-jarige ouderdom die SA putt-putt kampioenskappe in die o.14-afdeling gewen. Die landwye belangsteling in putt-putt as sportsoort het egter ‘n paar jaar daarna geweldig gedaal en my pa het oorbeweeg na gholf. Ek was 12 toe ek my eerste ronde gholf gespeel het.
VRAAG: Het jy jouself leer speel?
HANEKOM: In daardie stadium was die spelers met die laagste voorgee die beste afrigter – so die plaaslike spelers by die Windhoek-gholfklub het my maar gehelp wanneer hulle gedink het ek is op die verkeerde spoor. Al wat ek kan onthou van daai dae se afrigting was “swaai stadig” asook “hou jou kop stil” en “trek die stok met jou linkerhand”. Maar as ek terugkyk vandag dan was dit meer ‘n kwessie van mense wat wou help, maar die raad wat hulle gegee het was eintlik dinge wat vir hulle gewerk het in hul eie gholf.
VRAAG: Op watter baan het jy jou eerste ronde gespeel?
HANEKOM: Windhoek-buiteklub
VRAAG: Waar was jy op skool?
HANEKOM: Laerskool Pionierspark en Hoërskool Windhoek.
VRAAG: Wat was die hoogtepunte van jou junior gholf-loopbaan?
HANEKOM: Ek was vanaf 1981 tot 1984 die nommer 1-junior speler in Suidwes. Gholf in daardie dae was nie so kompeterend in Suidwes nie, want dit was ‘n “nuwe“ sport op skoolvlak. Ek het egter die geleentheid gekry om vir 3 jaar aan die SA junior Golf Foundation se toernooie in die Kaap te kon deelneem. Die kompetisie daar was baie sterker en as ek terugdink dan het daai toernooie en tye my eintlik die meeste geleer.
VRAAG: In jou jong dae - het jy baie hard geoefen?
HANEKOM: Ek het ook tennis, rugby, atletiek en krieket op skool gespeel. My pa het toe op ’n dag vir my gesê dat as ek ophou rugby en krieket speel dan koop hy vir my ’n splinternuwe stel gholfstokke. Nou ja, dit was dan nou ook so, en van daar af het ek net gholf en tennis gespeel. Wanneer my pa by die klub gekuier het, wat basies elke dag was, dan het ek buite die kroeg my tyd verwyl met balle slaan, chip en putt. So ja, daar is baie geoefen... My pa het gevoel dat rugby en krieket te veel beserings meebring wat my vorentoe in my lewe nadelig kan beinvloed vir gholf. Daarvoor is ek vandag dankbaar..
VRAAG: Wat het jy op Maties geswot en het jy redelik kans gekry vir gholf?
HANEKOM: Ek het BA Sportwetenskap geswot met Sielkunde as ekstra vak. Die vraag was eintlik of daar genoeg tyd was vir swot tussen al die gholf!
VRAAG: Wat was die hoogtepunte van jou gholfloopbaan by Maties?
HANEKOM: Sjoe, daar was baie - maar my sege by die SA Universiteite-kampioenskappe (op die Royal Johannesburg Oos-baan) in 1985 was seker die hoogtepunt. Die Maties het ook die spantitel gewen en as prys vir my sege het ek die uitnodiging gekry om daardie jaar op St Andrews aan die Wêreld Universiteite-kampioenskapstoernooi deel te neem. Ek het ‘n 3de plek op St Andrews behaal – ’n besliste hoogtepunt vir ‘n Suidwester wat op grondbane sy gholf geleer het!
VRAAG: Wanneer het jy begin om beroepsgholf te speel?
HANEKOM: Na my studies kon ek gaan onderwys gee, maar dit was nie juis iets wat ek wou doen nie.. Die bevelvoerder van Kommandement WP het my gekontak en gevra of ek nie vir Weermag wil gholf speel nie. Dit beteken dat ek vir 2 jaar weermag toe is. Het die basiese opleiding gedoen, offisierskursus voltooi en as sportoffisier by die Kasteel gewerk vir meer as ‘n jaar. Geweldige lewenslesse geleer in daai 2 jaar waaroor ek vandag baie dankbaar is. Na Weermag, einde 1990, is ek Johannesburg toe vir die Sonskynreeks-toerskool.
VRAAG: Wat was hoogtepunte in jou loopbaan as beroepspeler?
HANEKOM: Ek het ‘n Duitse PGA Uitnodigingtoernooi op Swakopmund gewen. Die toernooi is gereël deur die Duitse PGA en 60 beroepspelers is uitgenooi om in die toernooi te speel. Ook was ek naaswenner by die Africa Classic in die Ivoorkus. ‘n Ander hoogtepunt was ‘n derde plek in die Mauritius Ope.
VRAAG: Het jy ooit afrigters gehad?
HANKOM: Op universiteit was daar geen afrigters nie, en ons het net op oefen en gevoel gespeel. Toe ek beroepspeler raak, het ek in my eerste 9 maande ‘n redelike ernstige rugbesering opgedoen, en my dokter het genoem dat dit veroorsaak is weens my gholfbeweging. Nadat ek behandeling vir ‘n paar maande vanaf ‘n chiropraktisyn gekry het, het ek vir Martin Witcher gaan sien sodat hy my kon help om my swaai te verander sodat my rug minder stremming kry wanneer ek swaai. Die veranderinge was soos ’n twee-snydende swaard, want dit het baie gehelp vir my rug, maar op die baan het dit my baie lank gevat om weer onder pressure te kon presteer. In daai tyd wat ek nie die bal so goed geslaan het nie, het ek baie druk op my putting geplaas om te kan score. Nou ja, die lank en kort van daai storie was dat ek my putting confidence verloor het met “yips” en dit was basies die einde van my loopbaan as beroepspeler
VRAAG: Het jy 'n mentor gehad in gholf - iemand wat vir jou goeie raad kon gee?
HANEKOM: Nie spesifiek nie, maar die tyd wat ek die meeste onthou is die tyd wat ek saam met Retief Goosen geoefen en gespeel het. Ons was beide professionele lede by Ruimsig in Johannesburg en daar het ons elke dag saam geoefen en gespeel. Ons het ook saam gereis na toernooie toe. Retief was baie profesioneel in sy benadering tot sy loopbaan en dit het groot indruk en impak op myself as gholfspeler gemaak.
VRAAG: Hoe het jou loopbaan verloop nadat jy ophou het om beroepsgholf te speel?
HANEKOM: Ek was vir 6 jaar by Windhoek Gholfklub die direkteur van gholf en dan ook vir 3 jaar direkteur van gholf by die Omeya-buiteklub. By Omeya was ek deel van die ontwikkelingspan wat saam met Peter Matkovich gewerk het met die bou van die baan. Dit was ‘n besonderse leer-ondervinding om te sien hoe ‘n stuk veld omskep word in ‘n kampioenskapsbaan. Ek het ook vir 2 jaar vir Robert Baker gewerk as voltydse afrigter by die Vodacom Golf Village in Somerset-Wes. Verder het ek vir 13 jaar in die motorindustrie gewerk want motors en tegnologie is maar een van my passies, en dit is waar ek vandag nog is.
VRAAG: Jy is nou weer terug by die Stellenbosch-klub - hoe ervaar jy die baan asook die klub?
HANEKOM: Stellenbosch het nog altyd vir my ’n spesiale plek in my lewe. Ek dink die baan is ’n “classic” wat elke faset van jou spel toets en elke gat het sy “risk en reward”. Dis ’n klub waar ek nog altyd “tuis” gevoel het. Dis ‘n baan waar jy ‘n lae telling kan speel, maar dan moet elke faset van jou gholf goed wees
VRAAG: Jy het ook pas begin om in die senior toernooie te speel en vaar baie goed. Het jy mikpunte as 'n senior - dalk SA kleure?
HANEKOM: Ja, beslis - Springbokkleure is definitief op my bucket list.
VRAAG: As jy nou terugkyk op jou gholf-loopbaan - is daar iets wat jy anders sou doen?
HANEKOM: Ja, ek sou graag myself wou gaan vestig het in Amerika om daar aan my spel te slyp. Ongelukkig was dit net te duur vir my ouers . Plaaslik kon ek nie genoeg geld verdien om myself daai kans te gee nie. Verder dink ek dat ek minder moes peuter aan my tegniek, maar ek is maar tegnies van geaardheid en ook ‘n bietjie perfeksionisties. Dit is nie altyd goed vir gholf nie!
VRAAG: As 'n gholfafrigter - wat is die belangrikste beginsels wat jy meen die gewone speler moet onder die knie kry?
HANEKOM: Dis ‘n moeilike een, want elke mens verskil, maar beslis die greep, postuur en die setup tot die bal. Dan is alles in ‘n posisie om reg en meer natuurlik te werk. Van daar af dink ek ‘n speler moet leer om die stok te swaai met sy arms. Daar word te veel klem gelê op die liggaamsbeweging . By die meeste spelers sal die liggaam “reg” werk as die stok en die arms reg werk. Maar soos ek sê, mense verskil en ‘n afrigter moet die oorsaak van die fout kan raaksien en daaraan werk - veral as iemand “verkeerd” geleer het.
VRAAG: In jou loopbaan as gholfspeler het jy saam met talle top-spelers gespeel. Watter van hierdie spelers se gevoel - veral ten opsigte van hul kort spel was vir jou iets besonders?
HANEKOM: Retief Goosen en Ernie Els het uitgestaan as spelers wat onder druk beter presteer het as sonder druk. Trevor Immelman het my beindruk met sy konstantheid. Elke hou het dieselfde vlug gehad.
VRAAG: En wie was die ouens wat kon toor met die setstok?
HANEKOM: Kan nie juis een persoon uitlig nie. Ernie as ‘n jong man was ‘n baie baie goeie putter.
VRAAG: Gedurende die Covid19-inperk-periode - wat het jy gedoen om fiks te bly asook gholf-fiks?
HANEKOM: Ek doen net core oefeninge en balans-oefeninge om my rug te ondersteun, en verder ry ek fiets as ek kan.
VRAAG: Laagste telling ooit op Stellenbosch se baan?
HANEKOM: 63. ‘n 28 op die eerste 9 met 7 voëltjies in ‘n ry en ‘n 35 op die tweede nege.
VRAAG: Laagste telling ooit of enige ander baan?
HANEKOM: 64 op Windhoek, 65 op Ruimsig, 66 op Omeya, 66 op Swakopmund,
VRAAG: Huidige voorgee?
HANEKOM: Plus 1, hang af van baan en bowwe
VRAAG: Laagste voorgee ooit?
HANEKOM: Plus 6
VRAAG: Het jy al 'n kolhou behaal?
HANEKOM: Ek het al 8 kolhoue asook 2 albatrosse behaal. My eerste kolhou was in 1984 op Windhoek se 17de putjie en ek het in 1994 by dieselfde putjie ook dit reggekry. Ook op Windhoek se 9de putjie het ek twee kolhoue behaal (1995 en 2006). My 5de kolhou op die Windhoek-baan was by die 4de putjie in 1998. Op Omeya het ek in 2012 ‘n kolhou behaal. In 1991 het ek tydens ‘n Sonskynreekstoernooi by die Soweto-buiteklub ‘n kolhou by die 5de putjie behaal en in 1997 by die SA Club Pro-toernooi by Dairnfern het ek op putjie 6 dit ook reggekry. My twee albatrosse was beide op Windhoek se no 7. Een was met ‘n 3 yster uit die rough uit, en die ander een met ’n 4 yster.
VRAAG: Wat beteken gholf as mens vir jou?
HANEKOM: Geen sport maak jou meer nederig as gholf nie. Dis ‘n wonderlike sport waar jy intens kan meeding sonder dat jy die vinnigste, sterkste of fiksste moet wees. En dis ‘n sport wat jou selfvertroue as mens geweldig kan opbou as jy kan leer om die bal in die gat te sien. En ‘n wonderlike sport om mense te leer ken. ‘n Mens wys baie van sy karakter op die gholfbaan.