Gerhard Beukes

Twee vriendelike en beskeie gholfklub-lede Gerhard Beukes en Dewald Cloete het in 2017 'n baie suksesvolle jaar tydens Stellenbosch-gholfklub se kompetisies gehad.  Hulle het nie net die Winter Dubbels-Uitklop-titel gewen nie, maar is ook gekroon as kampioene van die Group One Nissan/Renault 2017-kompetisie.  In vandeesweek se rubriek gesels ek met Gerhard en volgende week vertel Dewald sy verhaal.


VRAAG:  Jy het as jong man groot naam gemaak as kanovaarder - het jy as skolier by Paul Roos al begin met kanovaarte?

BEUKES: Op skool het ek niks geweet van kanovaart nie en het die tradisionele sporte beoefen (gevorder tot B-span in rugby en 3de/4de in krieket).  My belangstelling in kanovaart het eers op universiteit begin waar my broer se kamermaat in Eendrag, die  Springbok-kanovaarder JT Basson was.  Aanvanklik was  ek hul "Second" wat hulle moes aflaai by die beginpunt van die rivier en dan weer met die motor na die eindpunt moes ry om hulle na 'n oefening/wedvaart op te laai.  Die "ge-waggery" langs rivier het my nie aangestaan nie met die gevolg dat ek self begin roei het in my eerste jaar op universiteit.

VRAAG:  Wat was jou beste vertoning ooit in die Bergrivier-kanomarathon en in watter jaar was dit?

BEUKES: Algeheel 3de in 1983. (wenner was Greyling Viljoen met Sunley Uys 2de).


VRAAG:  Wat is die hoogste provinsiale kleure/nasionale kleure wat jy in kanovaart behaal het?

BEUKES: WP-kleure jaarliks (1979 - 1992) en Springbokkleure in 1979 en 1992 (beide kere in die Marathon-dissipline).


VRAAG:  Oefen jy nog met die kano en neem jy nog aan wedvaarte soos die Bergrivier deel?

BEUKES:  Ja, ek oefen nog, maar nie meer so baie nie. (tans maar min met die leë riviere). Neem steeds deel aan die"groot" wedvaarte soos die Berg, Breë en Visrivier.


VRAAG:  Is daar iets tov al die ure wat jy ingesit het vir kanovaart wat jou later gehelp het toe jy begin het met gholf?  Bv. gebruik jy jou "kanospiere" goed om die gholfbal lekker te slaan?

BEUKES: In kanovaart is jou "core"-spiere wat die meeste gebruik word, jou rug, maag en skouers. Dit is dus ook "spiere" wat ek in gholf gebruik tesame met 'n goeie "ritme" in jou swaai wat ook belangrik is as jy roei.


VRAAG:  Wanneer het jy begin om gholf te speel en hoe het dit gekom dat jy begin speel het?

BEUKES: Toe ek in laat 80's by Ou Mutual werksaam was, was daar van my kollegas wat gholf gespeel het en een van hulle het op 'n Maandag by die Pro Shop 'n nuwe stel stokke gekoop en toe koop ek sy ou stel by hom.


VRAAG:  In kanovaart "sit" 'n mens die hele tyd terwyl jy oefen en kompeteer - anders as gholf wanneer jy gebukkend oor die bal moet staan as jy dit wil slaan - was dit 'n aanpassing of was dit lekker na al die harde sit in die kano?

BEUKES: Die aksie as jy "sit' in 'n kano en die "slaan" van bal stem baie ooreen aangesien beide 'n "rotasie" van jou bolyf vereis.  Dit was ietwat van aanpassing, want na jare se roei was die "sit"-rotasie taamlik dominant (meer om my lyf geslaan).


VRAAG:   Het jy jouself geleer om gholf te speel of het jy vir 'n paar lesse gegaan?  

BEUKES: 'n Kollega wie se stokke ek gekoop het, het my 'n paar basiese "tips' gegee en toe het ek balle geslaan op rugbyvelde by Markotter. Sonder lesse het my houe egter almal "ge-fade".  Dit het vir my groot frustrasie besorg en ek het vir 'n paar lesse gegaan om dit reg te kry.

VRAAG: Hoe het dit gekom dat jy en Dewald begin saam speel het?

BEUKES:  Het as 'n nuwe pasiënt een Woensdag-oggend in 1996 by hom is sy tandarts-stoel gesit toe 'n ander gholfpel hom bel om hul afslaantyd die middag te bevestig. Daar vra hy of ek wil saamspeel en die middag het ons, ons eerste ronde saamgespeel.


VRAAG:  Het julle vanaf die begin "gekliek" op die gholfbaan of het die goeie samespel maar oor jare gekom?

BEUKES: In die begin het ons dalk nie so goed gekliek nie en ek dink dit het oor die jare gekom aangesien ons mekaar se spel beter leer ken het. Dit is het later omtrent  outomaties geraak dat wanneer een van ons in die moeilikheid is konsentreer die ander ou harder.

VRAAG:  Met nog een ronde oor in hierdie kompetisie was julle 4 punte agter James Newman en Tallies Taljaard en 1 punt agter Hugo Heunis en Fred Kieks.  Het julle 'n goeie laaste ronde gehad vergeleke met jul teenstanders?

BEUKES: Die geluk was aan ons kant aangesien ons 'n goeie ronde gehad het en 47 punte gemaak het - 7 punte meer as ons swakste telling wat kon wegval (net die 6 beste rondes is in berekening geneem).  James-hulle met 40 punte asook Hugo-hulle met 42 punte kon nie op die laaste dag hulle totaal genoegsaam verbeter het nie.


VRAAG:  Die wenprys is dat julle 'n motor vanaf die borg kry wat julle vir 'n jaar gratis kan gebruik!  Hoe het julle besluit - wie sou eerste die motor gebruik en vir hoe lank?

BEUKES:  Ons het dit nooit vooraf bespreek nie en toe ons dit wen, was Dewald en sy seun by die gholfklub en daar is besluit hy kan die motor eerste kry. Na elke 3 maande ruil ons tot die jaar om is.


VRAAG:  Hoe ry die motor en geniet julle, jul prys?

BEUKES: Ek weet nie aangesien ek eers vanaf Maart dit sal ry, maar Dewald sê die motortjie ry lekker!


VRAAG:  Wat maak jou en Dewald so 'n gevaarlike kombinasie op die gholfbaan?

BEUKES: Omdat ons ook huisvriende is en mekaar goed ken en verstaan, plaas dit nie onnodige druk op ons as ons speel nie. Ons geniet die gholf en ek beskou dit as 'n wonderlike ervaring om op ons baan te kan stap. Ons het lankal opgehou om vir mekaar "Sorry partner" te sê as die houe wat ons gevisualiseer het, nie ooreenstem met die werklike houe nie.


VRAAG:  Julle het ook in ander kompetisies in 2017 goed gespeel - wat was vir jou ander hoogtepunte van 2017?

BEUKES: Ja - 2017 was goed gewees in die sin dat vir die eerste keer in 'n lang tyd  "voel" ek dat ek die bal beter slaan. (seker die dat my voorgee van 16 na 11 afgekom het)  Ons het ook die "Winter Dubbels-uitklop" gewen.  'n Ander hoogetpunt is die voorreg om na elke ronde die fantastiese uitsig te geniet wat ons vanaf die klubhuis op die omringende berge en gholfbaan het - dit laat ons herinner dat ons bevoorreg en geseënd is as lede van Stellenbosch-gholfklub.


VRAAG:  Julle neem gereeld deel as 'n paar aan die Winter Dubbels-uitklopkompetisie en 'n jaar of wat gelede het julle twee voormalige klubkampioene van die Stellenbosch-klub, Dewald Botha en Jaco Spies, tot ekstra uitspeelputjies geneem voordat hulle kon wen.  Dit was amper of julle het gewen?

BEUKES: Ek speel nie baie saam spelers van hulle kaliber nie en dit kan intimiderend wees as jou derde hou by hul dryfhoue kom. Dis gelukkig hoekom daar 'n voorgee-stelsel is en as jy sukses teen hulle wil behaal, moet jy op jou beste wees en hulle dalk nie.


VRAAG:  Huidige voorgee?   

BEUKES; 12


VRAAG:  Laagste voorgee ooit?   

BEUKES: 11


VRAAG:  Laagste bruto telling ooit nog op die Stellenbosch-baan?

BEUKES: Het nog net 2 keer in my lewe 80 op Stellenbosch-baan gebreek -75 in Maart 2015 en 76 in Junie 2014


VRAAG:  Wat is dit wat jy van gholf geniet en wat beteken die spel gholf vir jou as mens?

BEUKES:  Gholf is vir my baie soos 'n "spieëlbeeld' van die lewe.  Daar is goeie en slegte rondes, as jy wil verbeter moet jy oefen, as jy dink nou verstaan jy gholf en dis maklik, dan volg 'n ronde met baie "double bogeys". As jy nie veel verwag nie, dan verras 'n goeie ronde jou weer.   Wat ek die meeste geniet is dat as gevolg van die voorgee-stelsel, jy met enige persoon kan kompeteer, baie ander spelers  ontmoet  en na 'n ronde gholf op die stoep kan sit en gesels oor die lang dryf op die 18de, die kort slaan op die 6de, die "out of bounds" op die 8ste en die uitsien na die volgende ronde gholf.