Johannes van Waart het baie interessante paaie op die gholfbaan geloop. As junior op Oudtshoorn het hy ‘n indrukwekkende rekord op provinsiale vlak opgebou en het selfs as junior in die SA Ope op Mowbray gespeel. Hy is ook een van die min gholfspelers wat al ‘n albatros 2 behaal het.
Later was Van Waart ‘n baie gedugte Krugerliga-speler by Stellenbosch-klub.
Van Waart het in ons gesprek ook baie insiggewende gedagtes gedeel oor die Stellenbosch-gholfbaan asook klub. As ginekoloog het hy baie van die klublede se babas “gevang“ en hy gee ook vir die lesers ‘n kykie van sy ervarings hieroor.
Hierso volg die volledige onderhoud.
VRAAG: Vertel ons meer van jou skooldae en aan watter sportsoorte jy op skool deelgeneem het asook jou prestasies.
VAN WAART: Ek het op Oudtshoorn skoolgegaan en aan Hoërskool Oudtshoorn gematrikuleer. Ek het provinsiaal gholf gespeel (junior en senior - Suid Kaap en OP), asook provinsiale kleure in tweekamp en swem verwerf. Op skool het ek aan al ander die tradisionele sportsoorte deelgeneem.
VRAAG: Hoe is jy aan gholf bekend gestel en hoe oud was jy toe?
VAN WAART: Ek het op 13-jarige ouderdom begin gholf speel op Vrydaemiddae aangesien daar geen skoolsport op Vrydae op Oudtshoorn was nie. My pa was ‘n gereelde naweek-gholfspeler en ons was 4 juniors wat Vrydae vir ‘n koeldrank na die “game” gespeel het.
VRAAG: Oudtshoorn as gholfbaan moet beslis sy eie uitdagings bied en eise aan jong
gholfspelers stel. Watter aspekte van die spel gholf was veral ‘n uitdaging op die Oudtshoorn-baan?
VAN WAART: Op Oudtshoorn kon ons (goedgunstiglik) verniet speel (en ook na die setperke ons kortspel oefen). Die baan was toe nog ‘n tipiese droë Karoo-baan en meestal moes ons “chip en run“ naderhoue speel. Gelukkig was al die volwassenes baie gaaf met die juniors en kon ons selfs op skool (vanaf std 8) in die kroeg ingaan en saam met die ooms kuier (net koeldrank drink), maar ons moes belowe dat ons oor geen van die kroeg-gesprekke sou uitpraat nie (en daar was ‘n hele paar baie interessante stories!)
VRAAG: Vertel ons meer van jou prestasies as junior gholfspeler asook in die ope-afdeling geledere.
VAN WAART: Ek het vanaf std 7 (graad 9) vir die OP se junior span gespeel en was dan in matriek die span se kaptein. Daardie OP juniorspan was die eerste gholfspan in die land wat veelrassig was met twee swart spelers (Patrick en Cosmic Makwabe). Ons moes nog destyds by Piet Koornhof (Minister van Sport) skriftelike toestemming kry sodat hulle in die SA Junior kampioenskapstoernooi vir die OP kon deelneem. Ek het in daardie toernooi ‘n paar goeie putjiespel-seges behaal, insluitende ‘n sege (1 voor) teen Wayne Westner (hy was toe al ‘n lid van die SA junior span).
Ek het my eerste wedstryd vir die Suid Kaapse interprovinsiale span gespeel in std 8 (graad 10) en was ‘n gereelde lid van die span tot my eerste jaar op universiteit. Ek het 21 wedstryde vir Suid Kaap gespeel en was slegs 3 keer aan die verloorkant. Die kortspel-oefen op Oudsthoorn het beslis baie gehelp.
VRAAG: Voordat jy by Stellenbosch-klub aangesluit het, was jy ook lid by ander klubs?
VAN WAART: Ek was ‘n studentelid by Maties (1979 – 83) en daarna (toe ek as fisikus by die Atoom Energie Korporasie in Pretoria gewerk het) lid by die Pretoria se Buiteklub.
VRAAG: Van wanneer is jy lid van die Stellenbosch-klub?
VAN WAART: Ek het weer by Stellenbosch aangesluit in 1989 toe ek begin medies studeer het.
VRAAG: Wie was jou gereelde spanmaats in die Stellenbosch Kruger-ligaspan en wat was vir jou uitstaande kenmerke/eienskappe van hulle?
VAN WAART: Daar was ‘n hele paar manne, maar die bekendstes is Dewald Botha, Hanre Streicher, Sam Frost, Marius Fourie, Tienie Hendriksz en Charl Bergh. Ek het aan die einde van my kompeterende liga dae ook saam met van die opkomende skoolseuns Jaco en Philip Spies en Riaan en Philip Gerber gespeel. Hierdie jongmanne het geen bekendstelling nodig nie en was later jare kookwater seniors. Dewald en Hanre was altyd spelers wat (as hulle moes) hulle wedstryde kon wen. Hulle is steeds beide spelers wat glad nie daarvan hou om te verloor nie. Tienie was dan ook altyd die man met die teksboek-swaai en kon altyd waardevolle raad gee om ‘n fout met ‘n swaai reg te stel.
VRAAG: Saam met wie het jy in die ligawedstryde “foursomes“ gespeel en wat het gemaak dat julle ‘n suksesvolle kombinasie waas?
VAN WAART: Vir Suid Kaap was dit Johan Steyn (later ook ’n Boland-speler). Hy was altyd kalm en het ‘n kookwater kortspel gehad. Dit het baie gehelp as ek ’n los hou gespeel het. Vir Stellenbosch was dit Sam Frost. Hy was ook ‘n baie rustige speler met ‘n koel kop - dit het ons ‘n paar keer van ‘n moontlike verloor na ‘n wen geneem. Vir Maties was dit Andries van Niekerk. Hy kon die bal ver slaan en meestal oor al die moeilikheid. Hierdie het my kortspel goed gepas.
VRAAG: Op watter gholfprestasie wat jy behaal het is jy die trotste?
VAN WAART: Ek het in 1978 (as matriekseun) kans gekry om in die SA Ope op Mowbray te speel. Ek het die afsnypunt met 2 houe gemis, maar dit was lekker om saam met die groot kanonne soos Hugh Baiocchi en Mark McNulty in dieselfde toernooi te speel. Die albatros (2 op ‘n syfer 5-putjie) tydens die Pretoria Buiteklub se klubkampioenskappe in 1987 was ook ‘n lekker hoogtepunt.
VRAAG: ‘n Klompie jaar gelede het die destydse PGA beroepspeler van Stellenbosch die beleid gehad dat klublede en juniors nie mag “chipping“ oefen by die oefenbof met hul eie balle nie. Dit het tot groot ontevredenheid gelei by van die lede. ‘n Spesiale vergadering is daaroor gereël en tydens daardie vergadering het jy sterk standpunt ingeneem dat lede en juniors met hul eie balle kan oefen. Jou voorstel is deur die vergadering aanvaar. Vertel ons meer hiervan.
VAN WAART: Ek het op daardie stadium nog liga gespeel en kon nooit voor „toemaaktyd“ by die baan kom om balle te slaan nie. Die oefenbof het om 17h00 die laaste balle uitgegee. Die enigste oefening was dus om met jou eie balle te “chip en putt“. Dit was egter nie toegelaat nie aangesien die professionele speler nog in beheer was van die oefengeriewe. Ek dink hy was bang dat die oefenbof (en hy) sou inkomste verloor. Gelukkig het die lede die behoefte raakgesien en die voorstel ingestem.
VRAAG: Beide jou seuns is albei goeie gholfspelers – het jy vir hulle van kleinsaf saam geneem gholfbaan toe?
VAN WAART: Ek is baie lief vir gholf en was van opinie dat dit ‘n lekker sport is om deur die jare saam met jou kinders te speel. Die meeste ander sporte bied nie so ‘n geleentheid nie. Danksy die voorgee-stelsel kan ouer spelers nog steeds met die jonges (op voorgee) kompeteer. Die spel vestig ook goeie maniere en sportmangees. Henri en Christiaan het later ook die spel geniet en altwee aktief gekompeteer. Toe hulle nog op skool was, het ons gewoonlik op ‘n Sondag 9 putjies bruto gespeel en die verloorder moes die aand braai. Ek moes maar meestal die braaiwerk self doen.
VRAAG: Wat is die belangrikste lesse wat jy as ouer (asook as ‘n goeie gholfspeler) vir jou seuns geleer het oor gholf as spel?
VAN WAART: Respek vir jou medespelers, goeie maniere, sportmangees en die wedstryd is nooit oor tot die laaste sethou in is nie. Hiermee saam word harde werk altyd beloon.
VRAAG: In jou beroep as ginekoloog het jy sekerlik al ‘n hele klompie babas gehelp in die lewe bring wie se pa’s lede van die Stellenbosch-gholfklub is. Was daar enige amusante insidente wat jy met ons wil deel oor benoude Stellenbosse klublede-pa’s?
VAN WAART: Ek was bevoorreg om ‘n hele paar van die Stellenbosch gholfklub-lede en personeel se babas te vang. Ek het die pa’s en ma’s almal goed geken en net om seker te maak dat die babas nie almal hulle pa’s se stout streke kry nie, het ek gewoonlik die babas (direk na geboorte) se boudjies ‘n goeie paar pietse gegee. Dit was nie net om die asemhaling te stimuleer nie, maar ook om te sorg dat hulle ten minste soet is vir die eerste paar jaar. Ongelukkig het ‘n hele paar van die seuns reeds van hulle pa’s se streke gekry!! Stellenbosch gholfklub behoort egter oor ‘n paar jaar steeds kookwater-ligaspelers te hê as die familie-gholfgene sou inskop. Van die ander interessante insidente mag ek nie uitpraat nie, maar daar was ‘n paar goeies.
VRAAG: Watter ander Suid-Afrikaanse gholfbane is gunstelinge van jou?
VAN WAART: Leopard Creek is ‘n great baan en baie uitdagend, asook een van die bes versorgde bane in die land. George-gholfbaan en Durban Buiteklub tel ook onder my gunstelinge as gevolg van hulle karakter van uitleg en hulle vermoë om goeie spel te beloon en swak spel te straf.
VRAAG: Wat is die moeilikste gholfbaan wat jy al gespeel het?
VAN WAART: Gary Player Country Club in Sun City net voor die Million Dollar-toernooi.
VRAAG: Watter oorsese bane wat jy al gespeel het, was vir jou hoogtepunte?
VAN WAART: Ek het al geleentheid gehad om saam met my twee seuns op St Andrews te speel. Dit was spesiaal. Carnoustie was ook baie mooi, maar die lekkerste was die gelyk aan baansyfer 72 op Valderama in Spanje. Valderama is een van die mees versorgde bane wat ek nog gesien het.
VRAAG: Wat was jou eerste stel gholfstokke? En het jy lank daarmee gespeel?
VAN WAART: My eerste stel was ‘n stel Lee Trevino-stokke wat ons oor die pos bestel is. Nodeloos om te sê dat hulle glad nie almal dieselfde afgerond was nie. Elke stok het sy eie karakter gehad. Ek het vir 10 jaar met hulle gespeel.
VRAAG: As jy in die geheel kyk na hoe die Stellenbosch-gholfbaan tans speel – watter veranderinge/verbeteringe meen jy is nog nodig sodat die baan nog ‘n beter gholfervaring bied?
VAN WAART: Ek hou van die baan net soos hy is, maar kan sien dat die 6de putjie aangepas kan word om die ouer lede ‘n beter kans te gee om op te slaan vir 2 houe. Ek sou die area net voor die setperk ook skoonveld maak. Meer konstante sandkuile sou ook lekker wees.
Om ‘n meer/beter ervaring vir lede te bied sou ek graag die volgende wou sien. (Op Oudshoorn was dit baie ongewoon dat spelers hulle eie 4-bal opmaak. Spelers kon hoogstens hulle speelmaat/ „partner“ kies en die ander 2 spelers was in-“gedraw“. Met houespel/medal is alle name in ‘n hoed gegooi en spelers is volgens voorgee getrek.) Ek sou graag een Saterdag in ‘n maand sien dat opponente in ‘n vierbal getrek word. Dit verseker dat almal in die klub mekaar beter keer ken en bevorder so ‘n baie gesonde klubgees.
VRAAG: Laagste bruto telling op Stellenbosch se baan?
VAN WAART: 69
VRAAG: Laagste bruto telling op enige ander baan?
VAN WAART: 66
VRAAG: Laagste voorgee ooit?
VAN WAART: Nul
VRAAG: Huidige voorgee?
VAN WAART: 5
VRAAG: Wat beteken gholf vir jou as mens?
VAN WAART: Dis lekker om saam met/en teen familie te kompeteer. Ek het al baie hegte vriendskappe gesmee om gholf en ook baie mooi dele van die wêreld gesien in die naam van gholf. Gholf is ook die enigste sport waar spelers op voorgee met enigiemand
anders kan kompeteer tot ‘n gevorderde ouderdom. Laastens hou gholf almal nederig.