Baie van die lede van die Stellenbosch-gholfklub was in jul jongdae uitblinkers in ander sportsoorte. Francois (Mannetjies) de Vries was vir jare lank een van die beste bofbalspelers in die WP. In my onderhoud met hom praat ons ‘n bietjie oor sy bofbaldae, wat het gholf en bofbal in gemeen asook sy liefde vir die spel.
VRAAG: Jy was 'n baie goeie bofbalspeler as junior en ook as 'n jong man. Vertel ons meer hoe dit begin het dat jy bofbal gespeel het, en wat was die hoogtepunte in jou bofbal-loopbaan?
DE VRIES: As 10-jarige seun het my broer my een Saterdag Bergzicht toe geneem om Van der Stel se 1ste bofbalspan wat die middag teen Seapoint Cardinals gespeel het te gaan kyk. Dit was my eerste bywoning van 'n bofbalwedstryd. In daardie span was daar manne soos Killer Nel en Johan Goosen, beide Springbokke, asook puik bofbalspelers soos Johann Gerber , Jan Padda Engelbrecht, Gielie Neethling en Piet (Poskantoor) Swanepoel om net 'n paar spelers te noem.
Dit was spelers na wie ek as jong seun opgekyk het. Daardie middag het die bofbal-gogga my gebyt. Dit was 'n vinnige spel - 'n wedstryd duur ongeveer 2 ure.
My broer het my voorgestel aan Mills Petrie wat gevra het of ek nie belangstel om die volgende Dinsdag saam met die juniors te kom oefen nie.
Daar het alles begin.
Ek het my hele bofbal-loopbaan 3de rus gespeel. Die volgende jaar was ek vir die WP onder 12-span gekies en die jaar daarna vir die WP onder 14 span. Op senior vlak het ek 'n goeie kolfgemiddelde gehad en veldwerk was seker ook my sterkpunt. Ek het ongelukkig nooit die senior WP span gehaal nie aangesien ek in my posisie moes meeding met John Pete van Clyde Pinelands - hy was ‘n WP-speler wat ook vir die Springbokke gespeel het. Ek het bofbal gespeel tot ek ongeveer 31 jaar oud was en toe 'n jaar afgerig by Van der Stel.
VRAAG: Hoe het dit gekom dat jy begin gholf speel het? En hoe oud was jy?
DE VRIES: Ek was 32 jaar oud toe ek die eerste keer aan 'n gholfstok gevat het. My swaer was 'n enkelvoorgee-speler by Parow en het gevra ek moes een Saterdag sy sak vir hom dra.
Ek het gedurende die ronde 'n paar houe geslaan met verskillende stokke en het toe besluit om dit my volgende sport te maak. Die volgende dag het hy my na hul oefenbof geneem en die basiese goed gewys. Ek het 'n stel Ping Zing-stokke (as ek reg kan onthou) by hom oorgeneem en daarmee begin speel. Dit was in 1986. Ek het so 3 maande later by die Stellenbosch-klub aangesluit en my eerste voorgee was 18. Ongeveer 6 maande later was ek ‘n 14-voorgee en binne 'n jaar 'n enkel-voorgee.
Ek het nooit vir lesse gegaan nie.
VRAAG: Daar is sommige bofbalspelers wat dit maklik vind wanneer hulle begin om gholf te speel want hulle meen bofbal en gholf het heelwat in gemeen. Was jy ook een van hulle wat die spel maklik gevind het?. En watter dinge het bofbal en gholf in gemeen?
DE VRIES: Ek dink bofbalspelers vind gholf makliker aangesien die swaai baie na aan mekaar is.
Die grootste verskil in die swaai (bofbal) is dat jy vorentoe beweeg met jou linkervoet sodra jy die bal slaan. Alles beweeg vorentoe behalwe dat jou regtervoet geanker bly. Selfs jou kop beweeg vorentoe. Jy rol ook jou gewrigte met jou deurswaai.
Die grootste aanpassing vir my met die gholfswaai was om my kop stil en my linkervoet ook geanker te hou.
VRAAG: Omdat bofbalspelers hul gewrigte sterk gebruik wanneer hulle kolf, is bofbalspelers gewoonlik ouens wat die bal gemaklik haak - vind jy dit ook so?
DE VRIES: In bofbal maak dit nie saak hoe vroeg jy jou gewrigte rol nie aangesien jy nie 'n ‘club face’ het wat jy te gou kan “toemaak” nie. Dit was ook 'n groot aanpassing aangesien ek in die begin die gholfbal getref het met 'n toe gesig en dit gevolglik lelik gehaak het!
VRAAG: Jy en jou seun speel baie saam in kompetisies? Dis lekker om saam met jou seun te kan gholf speel - vertel ons meer daarvan
DE VRIES: Daar is niks lekkerder om gholf met my seun te speel nie. Ons speel elke tweede Saterdag indien moontlik. Ons gaan ook gereeld naweke weg as families en bespreek vir ons plekke sodat ons ook gholf kan speel.
VRAAG: Hoekom noem jou seun vir jou Bartel?
DE VRIES: My swaer wat my aan gholf voorgestel het, het my Bartel genoem. Ek het eendag gevra wat is die rede en volgens hom het hy 'n vriend gehad en ek het hom aan die ou laat dink.
Daarvandaan was dit Bartel en baie van my vriende ken net die naam.
VRAAG: Wat is die beste stel ysters wat jy ooit besit het?
DE VRIES: Ek dink die Adams Idea het my swaai die beste gepas en dit is defnitief my nommer 1-keuse. Na my rugbesering het ek gesukkel om die bal in die lug te kry. My beste tellings het ek ook met die Adams-stokke aangeteken.
VRAAG: Wat is vir jou die beste putjies op die baan en gee jou redes.
DE VRIES: Ek hou baie van putjies 12 asook 8, want met 'n goeie dryf is die kanse goed vir 'n voeltjie.
VRAAG: Wie is jou moeilikste opponente deur die jare op die Stellenbosch-gholfbaan?
DE VRIES: Moeilikste teenstander is beslis Steven Loubser. Sodra hy onder druk is en jy aanvaar die putjie is joune sal hy die mees ongelooflike hou speel met 'n glimlag op sy gesig.
Jou geld is nooit veilig nie. Hy is ook 'n baie aangename mens.
VRAAG: Jy het heelwat beserings die afgelope jare gehad - is jy nou oor die ergste beserings?
DE VRIES: Ongelukkig het ek my rug ernstig seergemaak in 2007 en het 'n rugoperasie oorweeg. Ek het reeds drie keer gegaan vir inspuitings in die lae rug (fasset block). Ek is deesdae versigtig om 'n “divot” te vat met my ysterhoue, want as ek die grond hard tref kan ek dit dadelik in my rug voel. Ek sal maar later in die jaar 'n besluit moet neem oor ‘n moontlike operasie.
VRAAG: Wanneer het jy aangesluit by die Stellenbosch-gholfklub?
DE VRIES: Ek het in 1986 by die klub aangesluit tot en met 1994. Vanaf 1994 tot en met 2004 het ek by skole as rugbyskeidsregter opgetree. Ek was weer aktief by die gholfklub vanaf 2002.
VRAAG: Jy en die vorige PGA klub "professional" van Stellenbosch, Graeme Webster is baie goeie vriende - vertel ons 'n staaltjie of twee van alles wat julle al saam gedoen het?
DE VRIES: Ek en die Engelsman is goeie vriende totdat ons op die baan stap - dan verander dinge. Ek moet hom en my bal gedurig dophou terwyl ons speel.
Dit laat my terugdink aan die laaste wedstryd wat ons op die King David-baan gespeel het. Ek het my bal in die sandkuil langs die 11de se setperk geslaan. Die sandkuil was diep en ek kon nie die setperkoppervlak vanuit die kuil sien nie. Na ek my sandhou gespeel het skreeu Webster: “Great shot, great backspin.”
Nadat ek die sandkuil gehark het en uitklim, was hy en die ander 2 spelers alreeds klaar geset.
My bal was ongeveer 2 meter vanaf die putjie en sonder om die bal op te tel en te merk (om tyd te spaar) het ek my sethou gespeel. Dis toe dat die bal ongeveer 50mm in die lug gespring het en slegs sowat 150mm vorentoe beweeg het!
Ek vra toe heel verbaas; Wat het daar gebeur?
Die ouens het omtrent gekruip van die lag en volgens Graham was dit as gevolg van die “backspin” wat my sandkuil-hou op die bal gesit het wat veroorsaak het dat my bal in sy eie “divot” gaan lê het. (Ek het natuurlik nie gesien die bal lê in sy eie “divot” nie!)
Ek het toe maar uitgeset en ons het aangespeel.
Na die wedstryd in die kroeg het hulle met alles uitgekom. Wat gebeur het, was: terwyl ek die kuil gehark het, het Webster my bal met die voet liggies in die setperk getrap.
Van nou af hou ek hom elke sekonde dop.
VRAAG: Wat is jou laagste telling wat jy nog ooit op Stellenbosch gespeel het?
DE VRIES: My laagste telling ooit was 71 in 2001 vanaf 'n 9 voorgee (my speelmaat was Rob Ysbrandy). Die baansyfer was toe 74. Na die eerste 9 putjies was ek 6 onder baansyfer met 2 arende en 2 voëltjies. Na die halfweg-huis het ek 'n bietjie my ritme verloor en 3 houe oor baansyfer gespeel.
VRAAG: Huidige voorgee?
DE VRIES: ‘n Swak 15
VRAAG: Laagste voorgee ooit?
DE VRIES: 7
VRAAG: Jou ander gunsteling-gholfbane?
DE VRIES: Langebaan en Pearl Valley.
VRAAG: Wat is lekker van gholf vir jou en wat beteken gholf vir jou as mens.
DE VRIES: Daar is baie dinge wat gholf vir my as mens baie spesiaal maak. Jy kan met enige persoon kompeteer. Jy ontmoet altyd nuwe vriende. Ek persoonlik dink dit is die beste sport wat daar is en dat jy kan aanhou speel tot 'n baie hoë ouderdom.