Die voormalige klubkaptein van die Stellenbosch-klub, Jan du Preez, is nie net ‘n ware gholf-geesdriftige nie, maar hy is ook iemand wat besliste menings het oor die baan en hoe die spel-ervaring verhoog kan word. In my onderhoud met hom het hy ook vertel van sy gholf-ervarings in Duitland asook Peter Matkovitch se voorstelle vir die baan.
VRAAG: Op skool by Paul Roos en na skool was jy 'n kranige rugbyspeler - het jy enige beserings oorgehou van die rugbydae wat vandag jou as gholfspeler pla?
DU PREEZ: Ja, ‘n lae rugbesering en is ook daarvoor geopereer. Ek het opgehou speel in 1978 en is twee jaar later deur vriende oorreed om weer te begin speel. In die eerste wedstryd het ek hierdie rugbesering opgedoen – so laat dit ‘n waarskuwing wees vir diegene wat dalk so ‘n dom besluit oorweeg!
VRAAG: So hoe het dit gekom dat jy begin het om gholf te speel?
DU PREEZ: Heelwat van my vriende het gholf gespeel en dit het my aangespoor om te speel.
VRAAG: Wat het jou aangetrek tot die spel gholf?
DU PREEZ: Vanaf die eerste dag wat ek ‘n gholfstok geswaai het, het die gogga gebyt – ek was eenvoudig gedryf deur die uitdaging om my voorgee so laag as moontlik te kry.
VRAAG: Kan jy nog onthou wat was die naam van jou eerste stel gholfstokke?
DU PREEZ: Die was ‘n Wilson-stel – ek het ‘n nuwe stel gekoop wat my R120 gekos het.
VRAAG: Het jy 'n gunsteling "brand" onder die gholfstokke en hoekom hou jy van daardie handelsmerk?
DU PREEZ: Ek speel reeds geruime tyd met Titleist-stokke. Ek hou van die feit dat daar nie elke jaar “nuwe” Titleist-stokke op die mark is nie – die konserwatiewe benadering.
VRAAG: Van wanneer af is jy lid by die Stellenbosch-gholfklub?
DU PREEZ: 1978.
VRAAG: Jy het ook vir 'n lang ruk in Duitsland gewerk - het jy gedurende jou tydperk daar gholf gespeel? By watter klub(s) het jy gespeel?
DU PREEZ: Ek was lid by Bonn-Bad Godesberg-gholfklub. Uit die aard van die saak het ek op baie bane in Duitsland gespeel. Ek het ook van die geleentheid gebruik gemaak gedurende my tyd in Duitsland om saam met vriende op bane soos Wentworth, Troon, Turnberry en St. Andrews te speel. (net om my werkgewers van daardie tyd gerus te stel – “dit was alles gedurende offisiële vakansietyd”).
VRAAG: Watter soort kompetisies speel die Duitsers graag en het hulle gebruike wat anders is as Suid-Afrikaanse klubs?
DU PREEZ: Die Duitsers speel hoofsaaklik enkel-houespel en ook net sekere kompetisies tel vir hul voorgee – die woord is “vorgabe wirksam”. Ek het eenmaal per jaar ‘n kompetisie geborg en dan het ons beterbal of samespel-stableford gespeel – hulle het dit baie geniet.
VRAAG: Op Stellenbosch het jy ook liga-gholf gespeel - watter hoogtepunte en insidente staan by jou uit wat liga-gholf betref?
DU PREEZ: Eerstens leer liga-golf enige nuweling baie vinnig om te konsentreer en te kompeteer en so ‘n beter gholfer te word. Ek het baie gehou van die samehorigheid in ligagholf - iets wat ongelukkig nie meer bestaan nie. Die kompetisie met die teenstanders; en dan na die tyd almal met hul klubbaadjies en -dasse; en dan ete saam en die lekker gesels. Niemand het meer tyd nie, wat absolute onsin is. Een insident by Vredenburg-gholfklub wat ook ‘n groot les vir my was – ek was in my wedstryd 4 gate op met 4 putjies oor om te speel – ‘n posisie waarin dit gewoonlik onmoontlik is om te verloor. Ekself het vier syfers op die laaste vier putjies behaal, maar my teenstander het danksy 2 voëltjies asook die feit dat hy op die twee ander gate houe teen my gekry het daarin geslaag om al vier gate te wen! Die resultaat was dat ons “all square” geëindig het – “It is never over until its over!”
VRAAG: Jy het ook die voorreg dat jy gereeld gholf kon speel saam met jou twee seuns - vertel ons meer hoe ervaar jy dit om 'n sport soos gholf te beoefen saam met jou seuns?
DU PREEZ: Soos jy sê, dit is ‘n voorreg. Jacques wat nou permanent in Duitsland woon is lid by Dresden se gholfklub en Marcel is lid by Pretoria Buiteklub. Wanneer ons saamspeel kompeteer ons baie sterk onder mekaar - ons gee mekaar nie ‘n vry set nie.
VRAAG: Jy was ook vir 'n termyn kaptein van die Stellenbosch-gholfklub - wat was vir jou die belangrikste projekte wat aangepak is gedurende jou termyn as kaptein?
DU PREEZ: Die baan was vir my prioriteit – dit is waar die meeste tyd deur enige lid of besoeker deurgebring word en waaroor gepraat en vertel word. Indien die baan goed is, kom gholfers terug. Gedurende my tyd as kaptein was ook die groot storm wat die Stellenbosch-baan oornag radikaal verander het (talle bome is omgewaai). Dit was ‘n moeilike tyd en die belangrikste was om die baan speelbaar te kry en dan daarna die opruiming ens. Dit het ten minste ‘n jaar geneem voordat ons strategies kon begin dink oor die pad vorentoe.
VRAAG: Tydens 'n onlangse lede-vergadering het jy genoem dat Peter Matkovitch (gholf-argitek) 'n "course-manual master plan" opgestel tov die kondisionering van die baan in die geheel. Gee vir ons 'n bietjie meer inligting hoekom hy dit gedoen het en wat die "master plan" behels?
DU PREEZ: Hierdie meesterplan en ander inligting is by die klub. Peter Matkovitch se betrokkenheid was hoofsaaklik en opsommend - sandkuile, bome en bowwe met die klem op die sandkuile wat op daardie stadium gereed was vir opgradering. Die onderhoud van die sandkuile is uiters belangrik en daar is ‘n handleiding daarvoor. Veral die gereelde spoel van die dreinering en die opvul van sand in die kuile - dit is ook belangrik om nie aanhoudend op te vul nie want die sand moet nie dieper as ongeveer 5 cm bo die basis van die kuile wees nie. Peter Matkovitch se kommentaar oor die baan was interessant – hy meen die baan is basies een dimensioneel: met ander woorde die meeste gate is op en af sonder enige “dog legs” en interessante bof-plasings. Voorstelle wat hom hieroor het ingesluit:
* skuif bof op 3de putjie heel links;
* verander die 5de putjie in ‘n syfer 4 deur die setperk vorentoe te skuif en asook die water regs en voor die setperk in die spel te bring;
* maak die 6de putjie ‘n syfer 5 – skuif die bof terug;
* 8ste putjie skuif die bof regs bo in die klipkoppie;
* 16de putjie – maak dit ‘n kort syfer 4 – skuif bof na regs en laat die water teen-aan setperk kom;
* 18de putjie – skuif bof ver na agter – dit sal maak dat die 18de putjie se streep (stroke) na 2 sal verander.
Hierdie veranderinge sal die baan opgradeer, meer modern laat vertoon en ons sal baie beter graderings vir die baan kry. Dit sal miskien goed wees om al hierdie inligting weer onder die aandag van die lede te bring en te bespreek. Louis Destroo het eersterangse kennis omtrent alles wat hierbo genoem is – hy was op daaglikse basis betrokke tov al hierdie besprekings/aktiwiteite.
VRAAG: As oud-kaptein het jy goeie kennis opgedoen oor die werking van 'n gholfklub. (i) Wat maak jou opgewonde by die klub tov van dinge wat tans gebeur, en (ii) wat is die dinge wat jy meen nog aangespreek moet word om die gholfervaring by die Stellenbosch-klub nog beter te maak?
DU PREEZ: Dit is rerig opwindend om by die klub op te daag met al die positiewe en kwaliteit veranderinge wat plaasgevind het die afgelope paar jaar. Die verskillende elemente is besig om bymekaar te kom bv. die baan, die klubhuis, die kleedkamers, die spyseniering, die houtdek, die kroeg-gedeelte ens. ens. Dan natuurlik die personeel wat altyd vriendelik en behulpsaam is laat alles nog beter vertoon. Niks is ooit in almal se oë perfek nie en die groot uitdaging is natuurlik om die hoë standaarde te handhaaf en nog beter te maak.
VRAAG: In jou termyn as klubkaptein het jy vir Johann Rupert gekry om as geleentheidspreker op te tree by 'n dinee van die klub. Wat was Johann se kern-boodskap aan die klub en sy lede? En dis sekerlik 'n veertjie in jou hoed dat jy 'n besige man soos Johann kon kry om met die klublede te kom praat.
DU PREEZ: Soos jyself weet was ons almal saam op Paul Roos Gimnasium en ek was bevriend met Anthonij Rupert waar ons ook as gevolg van ons gedeelde belange in wyn baie tyd saam spandeer het. Anthonij, Fanie Malan van Allesverloren Landgoed en ek was ook saam op ‘n 3 weke promosietoer deur Duitsland vir ons wyne – dit was nie “maklik” nie. Dit genoem, asook die feit dat Johann lid is by ons klub, maak die aanvaarding vir so ‘n uitnodiging seker makliker. Gedurende die tyd van die funksie was daar redelik verskille en gesprekke oor die voorgee-stelsel in Suid Afrika. Johann het redelik uitgebrei oor hierdie tema. Ook humoristies was Johann se opmerking oor Vivian van Wyk, toe bestuurder by die Stellenbosch-klub, se “onaanvaarbare gedrag” om met ‘n gholfkarretjie reg voor Leopard Creek se klubhuis by ‘n Alfred Dunhill-toernooi oor ‘n sensitiewe area te ry!
VRAAG: Is jy gelukkig met die vordering van die boomplant-projek op die baan?
DU PREEZ: Dit is fantasties en ek kan my kwalik voorstel hoe die baan met al hierdie bome sal vertoon oor so 20 jaar – hoop ons sal nog hier wees om dit te sien! Bome moet net beskerm word teen gholfballe wat permanente skade kan aanrig – plastiekpype moet om die boomstamme wees in die spelrigting waar bome beskadig kan word.
VRAAG: Jy is 'n wyn-mens in hart en niere - hoe voel jy oor die wyne wat aangebied word by die klub? Wat is jou gunstelinge?
DU PREEZ: Die wynlys is uitstekend en daar is ‘n goeie variasie van Tassenberg tot Stellenbosch se mees gesogte uitsoek-wyne. Ook die duurder wyne wat per glas aangebied word is goed vir die toeriste.
VRAAG: Wat is die persoonlike hoogtepunt wat jy al behaal het in gholf?
DU PREEZ: Beslis toe ek as kaptein verkies is by ons klub. Dit is lekker om ‘n klein bydrae te kon maak aan ‘n sport en vriende wat vir my baie genot verskaf het.
VRAAG: Het jy al 'n gelukhou behaal?
DU PREEZ: Ek het 4 gelukhoue behaal – twee op Stellenbosch, een op die ERPM-gholfbaan in Boksburg en een op Erinvale – ek kon net die een op Erinvale (gat 2) fisiek in die putjie sien rol.
VRAAG: Laagste bruto telling ooit?
DU PREEZ: Stellenbosch as Syfer 74 – 75 gespeel ; Stellenbosch as Syfer 72 – 73 gespeel.
VRAAG: Laagste voorgee ooit?
DU PREEZ: 4 – dit was nie van lange duur.
VRAAG: Huidige voorgee?
DU PREEZ: 13
VRAAG: Jy het 'n kenmerkende manier van beduie met jou hand net voordat jy set - hoe het dit gekom dat dit deel geraak het van jou set-roetine?
DU PREEZ: Die gesegde is dat elke sethou is ‘n “reguit” sethou – ek maak met die handgebaar net seker ek is op daardie regte “reguit” lyn.
VRAAG: Wat beteken gholf as mens vir jou?
DU PREEZ: Met alles wat die spel bied - van frustrasie, goeie spel, swak spel, lekker partners, nie sulke lekker partners, slegte weer, goeie weer…….NET PLESIER.