In die skroewe met Jeff Wedgwood

Jeff Wedgwood is reeds vir 60 jaar lank lid van die Stellenbosch-gholfklub en hy het deur die jare met sy eie oë groot veranderinge by die Gholfklub gesien.

Hierdie oud-krieketspeler van die Boland speel nog elke Saterdag in ‘n gereelde vierbal en geniet sy gholf nog baie.


Hierso volg my onderhoud met hom.

VRAAG: Waar was jy op skool?

WEDGWOOD:  Ek was maar ‘n klein seuntjie toe ons vanaf Engeland gekom het om in Suid-Afrika te kom woon.  Ek was in Bloemfontein op skool by St Andrews.

VRAAG:  Gee ons ‘n kort oorsig oor jou loopbaan?

WEDGWOOD:  Nadat ek eers ‘n paar ander idees in my kop gehad het, was ek gelukkig genoeg gewees om werk te kry by Stellenbosch-Boerewynmakery (SFW) – in die laboratorium.  Later was ek tot en met my aftrede die hoof van wynaankope by SFW.

VRAAG: Hoe het jy begin gholf speel?

WEDGWOOD:  Een van my kollegas by SFW was Mike Fouche.  Mike het vir die WP ‘n klompie wedstryde krieket gespeel en was ‘n geesdriftige gholfspeler – hy het my aangemoedig om te begin speel. Toe ek verloof geraak het aan my vrou Marie het ek haar ‘n verloofring gegee en haar geskenk aan my was drie Bobby Locke-houte (1, 3 en 5).  Toe was die gholf-koeël deur die kerk!


VRAAG: In watter jaar het jy aangesluit by die Stellenbosch-klub?

WEDGWOOD:  Ek het in 1960 aangesluit en is dus reeds 60 jaar lank lid van die klub.

VRAAG: Wie was die ouens wat jou destyds as nuwe lid baie laat tuis voel het by die klub en saam met wie het jy gereeld gespeel?

WEDGWOOD:  In daardie jare het hulle nog ‘n “draw” gehad vir kompetisies en jy het gespeel saam met die ou waarmee jy ge-„draw“ is.  Die eerste klomp kere is ek elke keer ge-“draw“ saam met dr. Schoonees van die Woordeboek.  As julle dink daar is tans moeilike manne by die klub, dan het julle nog nie saam met dr. Schoonees gespeel nie.  Later het ek my lot gaan bekla by dr. Izak van Biljon en daarna is ek omtrent nooit weer ge-“draw“ saam met dr. Schoonees nie.

VRAAG: Wie was die karakters van die klub in daardie jare?

WEDGWOOD:  Daar was baie karakters.  Een van die groot karakters was prof. AC Cilliers.  Hy is die man wat by ‘n jaarvergadering ‘n sekere voorstel gemaak het – om net daarna teen sy eie voorstel te stem! 

VRAAG: Toe jy aangesluit het - hoe het die baan en klubhuis gelyk - wat was baie anders as vandag?

WEDGWOOD:  Wel – toe ek aangesluit het was dit nog ‘n 9-putjie-baan.  Later toe dit verander is na ‘n 18-putjiebaan was putjies 7, 8 en 9 die enigste putjies wat nie verander het nie.  Soos jy dit (7, 8 en 9) vandag speel – so was dit destyds ook.  Die klubhuis was klein en die kroeg nog kleiner – as daar ses ouens in die kroeg was, het die kroeg vol gevoel!

VRAAG:  Jy is iemand wat in die winter jou balle voor die tyd in warm water sit sodat dit verder kan trek?

WEDGWOOD:  Ja, ek het dit al baie gedoen in die winter, want warm gholfballe trek beslis verder op ‘n koue wintersoggend.  Maar deesdae speel ek vanaf die blou bowwe en hoef nie meer my balle “op te warm“ nie.

VRAAG: Wat meen jy is van die belangrikste verbeterings tov die gholfklub wat jy beleef het as lid?

WEDGEWOOD:  Natuurlik die feit dat die baan verander is in ‘n 18 putjie-baan.  Ook is die klubhuis geweldig uitgebrei en die geriewe is tans uitstekend.

VRAAG: Jy is al in jou 80's maar jy stap nog die baan - wat is jou resep om nog lekker fiks te bly?

WEDGWOOD:  ‘n Klompie jaar gelede het ek my rug seer gemaak en die dokter het my oefeninge gegee wat ek elke oggend getrou doen.  Verder het ek ook atritis en die dokter se raad daarvoor was “Bly aan die beweeg.“ So ek stap op die gholfbaan en ry baie fiets na Lanzerac en terug vanaf die huis.

VRAAG:  Jy speel in ’n gereelde vierbal?

WEDGWOOD:  Ja dis ek, Billy Cooper, Piet le Grange en Curly Nortje.  Ek geniet dit baie om saam met hulle te speel.

VRAAG:  Is daar darem ‘n weddenskap op die spel tussen julle vier?

WEDGWOOD: Nee wat – dit is nie meer ‘n prioriteit vir ‘n pensionaris-gholfer nie!

VRAAG: Indien jy veranderinge sou wou aanbring tov die baan - wat sou jy graag wil verbeter?

WEDGWOOD: Oor die algemeen is die baan baie goed, maar daar is wel klein dinge wat vir my pla.  Dit is soos wanneer daar nie water in die emmer is op die 1ste en 10de bof nie.  Ook pla dit my as ek sien die toesig is nie goed wanneer die klub die skoonvelde besproei nie.  Jy kom op kolle af in die skoonveld wat papnat is en waar die toesig ten opsigte van besproeing beslis ontbreek.

VRAAG:  Laagste voorgee ooit?

WEDGWOOD:  Ek was ‘n 11-voorgee.

VRAAG: Huidige voorgee?

WEDGWOOD:  Is tans ’n 21-voorgee vanaf die blou bowwe.

VRAAG:  Het jy al ’n kolhou behaal?

WEDGWOOD:  Ja twee keer.  Een op die 7de (nogals saam met dr. Schoonees in die vierbal!) en die ander ene was tydens SFW se dag op die 13de putjie – die keer was Duimpie Bayly in my vierbal.   Omdat dit SFW se dag was, was die veld vol. Ek het destyds nie die geld of versekering gehad vir die ronde drankies nie, maar die manne wou drink!  Die Maandag het ek na Jan Maartens gegaan by SFW en vir hom gesê:  “Jan, dis jou gholfdag en jy moet help betaal (Jan was destyds bemarkingsdirekteur van SFW).  Op die einde het SFW darem help betaal aan die drankrekening.

VRAAG: Wat beteken gholf as mens vir jou?

WEDGWOOD:  Dis vir my lekker en hou ‘n mens fiks.

AlertifyJS

By clicking “Accept All Cookies”, you agree to the storing of cookies on your device to enhance site navigation, analyze site usage, and assist in our marketing efforts.