In die skroewe met Kobus van Schalkwyk

Stellenbosch se onder-klubkaptein Kobus van Schalkwyk met sy  innemende geaardheid is lid van ‘n gereelde vierbal wat op Woensdae en Saterdag in die kompetisies “uitdraf“.  In hierdie onderhoud vertel Kobus my onder meer van sy speelmaats se sterkpunte.  Ook gee Kobus vir lesers ‘n kykie van uitdagings wat die klub in die gesig staar.  Hierso volg my volledige onderhoud met hom.


VRAAG:  Waar was jy op skool en aan watter sportsoorte het jy deelgeneem?
VAN SCHALKWYK:  Hoërskool Bellville: rugby en krieket.


VRAAG:  Wat was jou eerste kennismaking met gholf en hoe oud was jy?
VAN SCHALKWYK: Van my vriende wat saam met my klerkskap gedoen het, het gholf begin speel en my 'n bietjie touwys gemaak. Ek het toe by Bellville-gholfklub aangesluit. Ek was toe 27 jaar oud.


VRAAG:  Wat het jou aangetrek tot gholf as sportsoort?
VAN SCHALKWYK: Die uitdaging om 'n bal wat stil lê raak en reguit te slaan en die geleentheid om op 'n gereelde basis ‘n paar ure saam met vriende te spandeer.


VRAAG:  Het jy jouself leer speel of was daar iemand wat jou gehelp het om die basiese aspekte van die spel te bemeester?

VAN SCHALKWYK:  Ek het aanvanklik maar eintlik myself leer speel, maar ek het wel later waardevolle hulp gekry by Tienie Hendriksz asook by Erich Kliem.

VRAAG:  Van wanneer is jy lid van die Stellenbosch-klub?

VAN SCHALKWYK: Van 1996 af.

VRAAG:  Kan jy nog onthou wat was die naam van die eerste stel gholfstokke wat jy ooit besit het?  

VAN SCHALKWYK: Die eerste nuwe stel stokke wat ek gekoop het, was 'n stel Lynx-ysters.

VRAAG:  En met watter stel ysters/houte speel jy vandag?

VAN SCHALKWYK: Ek speel met Cleveland CG16 ysters en TaylorMade Burner-houte en Hybrids.

VRAAG:  Jy speel gereeld in die vierbal saam met Gerhard Beukes, Dewald Cloete en Isak Theron.  Julle verkeer altyd in 'n goeie gees na die tyd in die klubhuis.  Op die baan is dit seker anders en dan is die kompetisie sterk onder julle?  Vertel ons 'n bietjie meer van jou gholfmaats se sterk eienskappe op die baan.

VAN SCHALKWYK: Daar is altyd 'n interne kompetisie as ons speel en ons neem dit baie ernstig op, al is die “stakes” nie juis groot nie. Almal is kompeterend en verloor nie graag nie. Drywe wat nie die rooi bowwe haal nie, word nie ongestraf gelaat nie – dit kos 'n bottel wyn. Maar een van die hoogtepunte is om na die tyd ’n bier en/of 'n bottel wyn te geniet, te kuier en om met ander lede geselsies aan te knoop.

Gerhard slaan reguit, set uitstekend en het die vermoë om 'n swak hou agter hom te sit.

Dewald slaan die bal lekker ver en bly altyd positief.

Isak is baie kompeterend en gebruik nooit gekruide taal nie - selfs al gaan dit die dag nie so goed met die gholf nie!

VRAAG:  Het jy 'n gereelde maat in die vierbal - of wissel julle af elke week?

VAN SCHALKWYK:  Ons gooi elke keer balle om te bepaal wie saamspeel.

VRAAG:  Wat is vir jou die mees uitdagende putjie op die eerste 9? 

VAN SCHALKWYK: Die 8ste putjie. Ek speel met 'n natuurlike “draw” en met die steil helling van die skoonveld na die heining se kant toe, beland my bal baie dikwels teen die heining - wat gewoonlik op 'n strafhou uitloop.

VRAAG:  En die mees uitdagende putjie op die tweede 9?

VAN SCHALKWYK:  Die 11de putjie is vir my moeilik. Dit hou ook verband met my “draw”. Die bome aan die regterkant van die skoonveld maak die dryf moeilik omdat ek graag na die regterkant van die skoonveld slaan om voorsiening te maak vir die “draw”. Ek het 'n soortgelyke probleem met die boom aan die regterkant van die setperk wanneer ek my tweede hou slaan.

VRAAG:  Dit is deesdae omtrent 'n gespook om in die oggende plek te kry vir Saterdae se kompetisies by die klub.  Wie is die ene in jul vierbal wat vroeg wakker raak op 'n Saterdag en dan vir julle 'n vierbal bespreek?

VAN SCHALKWYK: Dewald Cloete is die aangewese persoon en hy is baie getrou met die besprekings.

VRAAG:  Meen jy die huidige sisteem hoe klublede vooraf bespreek wanneer hulle op kompetisiedae wil speel, het gebreke?

VAN SCHALKWYK: Geen stelsel is seker volmaak nie. Ek dink die grootste probleem is dat daar baie lede is wat Saterdagoggende wil speel, maar nie middae nie. Daar is gewoonlik genoeg plek vir lede om op Saterdagmiddae te speel. Maar as 'n lid bereid is om besprekings te maak sodra die vooraf besprekingstelsel Saterdagoggende oopmaak, is daar gewoonlik ook genoeg afslaantye op Saterdagoggende beskikbaar.

VRAAG:  Jy is ook onder-kaptein van die klub.  Vir lede wat nog nooit op gholfklubs se komitee gedien het nie, is dit soms moeilik om te verstaan watter bydraes komitees maak tot die sukses van die klub.  Wat is die belangrikste insigte wat jy gekry het sedert jy op die klubkomitee dien?

VAN SCHALKWYK:  Ek tot die besef gekom dat die klub nie behoorlik kan funksioneer sonder 'n dinamiese en bekwame Hoof-uitvoerende beampte en bestuurspan nie, en ons is baie gelukkig dat ons  'n uitmuntende bestuurspan het. Die komitees is daar om seker te maak dat daar na lede se belange omgesien word. Die toewyding van komiteelede is prysenswaardig en die tyd wat hulle opoffer is wesenlik. Daar word baie verantwoordelik met die klub se fondse omgegaan. Wat my in die besonder getref het, is die omvang van kapitaaluitgawes wat benodig word om die baan in stand te hou en die beplanning wat daar ingaan om te verseker dat die baan voortdurend verbeter word sodat lede se gholfervaring ook verbeter.

VRAAG:  Wat meen jy is van die heel belangrikste uitdagings wat die klub in die gesig staar?

VAN SCHALKWYK: Die droogte in 2018 het getoon dat die belangrikste doelwit is om te verseker dat daar voldoende water is om die skoonvelde en setperke in goeie toestand te hou. Ons moet dus sorg dat ons damme groot genoeg is sodat ons sover moontlik selfonderhoudend kan wees wat water betref. Verder moet ons oor die volgende aantal jaar 'n besproeiingstelsel installeer wat skoonvelde en setperke effektief natmaak. Dit sal ook ons sandkuile in ‘n beter toestand hou. Dit is duur projekte en die uitdaging is om voldoende fondse te genereer om die projekte te finansier.

VRAAG:  Die Stellenbosch-klub is baie besig en veral talle besoekers speel op die baan.  Dit is sekerlik soms 'n balanseertoertjie om na beide die belange te kyk van lede asook nie-lede (besoekers).

VAN SCHALKWYK: Die lede se belange kon natuurlik eerste en ‘n mens wil aan lede die maksimum geleentheid gee om in klubkompetisies en by ander geleenthede te speel. Dit is ook belangrik om subskripsies en speelfooie vir lede so bekostigbaar as moontlik te hou en daar speel besoekers, veral buitelandse besoekers, 'n belangrike rol. Besoekers se speelfooie is heelwat hoër, hulle spandeer dikwels meer in die gholfwinkel en huur dikwels gholfkarretjies en gholftoerusting. Ons lede se aantal rondtes het vanjaar toegeneem, terwyl besoekersrondes afgeneem het. Die negatiewe effek van hierdie verandering in die mengsel van rondes op die klub se inkomste is ooglopend.

VRAAG:  Watter ander bane is gunsteling-bane van jou?

VAN SCHALKWYK: Ek hou van Clovelly en van die Suid-Kaapse bane soos George en Fancourt.

VRAAG:  Huidige voorgee?

VAN SCHALKWYK: 13

VRAAG:  Laagste voorgee ooit?

VAN SCHALKWYK: 12

VRAAG:  Laagste bruto-telling ooit?

VAN SCHALKWYK: 80

VRAAG:  Het jy al 'n kolhou behaal?

VAN SCHALKWYK: Ongelukkig nie

VRAAG:  Wat is jou opinie van die nuwe ontbyt-aanbieding by die halfweg-huis?

VAN SCHALKWYK: Ek mis nogal die verskeidenheid wat ons onder die vorige stelsel gehad het, maar terselfdertyd het dit nie finansiële sin gemaak om drie werknemers by die 9de en die 18de bowwe te laat sit om bestellings te neem nie. Die nuwe ontbyt-aanbieding is vir my bevredigend. My speelmaats hou van die gesondheidsontbyt.  Ek verkies om nie 'n groot ontbyt te eet in die halfweghuis nie. Miskien kan daar 'n kleiner ete, byvoorbeeld 'n ontbyt bestaande uit eiers en spek, maar sonder wors, ook beskikbaar wees.

VRAAG:  Wat beteken gholf as mens vir jou?

VAN SCHALKWYK: Dit gee my die geleentheid om in 'n pragtige omgewing tyd saam met vriende deur te bring en terselfdertyd 'n bietjie oefening in te kry. Verder is dit die ideale sport om jou nederig te hou.