Marius Fourie

Hy is lid van die vier manne in die hoekie.  Hy was 'n nullo-speler in sy jong dae wat met groot sukses aan SAU-toernooie deelgeneem het.  Verder is hy 'n vriendelike klublid met 'n lekker humorsin. Aan die woord is Marius Fourie en hierso is my volledige onderhoud met hom.


VRAAG:  Waar was jy op skool en aan watter sportsoorte het jy deelgeneem?

FOURIE:  Ek het vele skole bygewoon, maar het matriek geskryf op Malmesbury.  Op skool het ek deelgeneem aan rugby, krieket en tennis.  Gholf was as skoolseun nie vir my beskore nie, want die vrees was dat ons sou drink by die klub.

Die vier manne voordat hul afslaan.
Van links:
Jakkie du Toit, Jannie Brink, Danie Brink en Marius Fourie

VRAAG:  Kan jy onthou die eerste keer toe jy aan gholf bekend gestel is - hoe het dit gebeur en hoe oud was jy?

FOURIE: Ek was in standerd 8 in Betlehem op skool toe ek my pa se gholfstokke en ‘n instruksie-plaat van Arnold Palmer opgespoor het en het my eerste ronde op die 9-putjiebaan op Golden Gate gespeel.

VRAAG: Wat was die naam van die eerste gholfstel wat jy besit het?

FOURIE: ‘n Stel Bobby Locke-stokke

VRAAG:   Jy was 'n student aan Kovsies en het daar vir die universiteit se span gespeel.  Vertel ons van die hoogtepunte in daardie jare?

FOURIE: Kovsies het nooit die SAU-toernooi gewen nie, maar wel twee keer vir Rhodes die loef afgesteek om die drinkbeker.  Hoogtepunte vir my was om die SAU se nie-spelende kaptein teen OVS se senior span te wees.  Was ook vir drie jaar kaptein van die Kovsie-gholfspan wat spelers soos Ian Palmer, Dickie Coetzee, Ben van Zyl, Johan Oosthuizen en Leon Louw ingesluit het.

Lekker gesellig in die hoekie sit Marius Fourie, Jannie Brink, Jakkie du Toit en Danie Brink.

VRAAG:   Van wanneer is jy lid by die Stellenbosch-klub?

FOURIE: Sedert 1987

VRAAG:  In jou jonger dae was jy een van die top-spelers by die Stellenbosch-klub.  Wie was in daardie dae jou sterkste teenstanders?

FOURIE: Regtig te veel om op te noem, maar manne soos Dewald Botha, Tienie Hendriksz, Francois Hanekom, Michael Vogel en die  Sanderson-broers, Philip en Colin was baie goeie gholfers.

VRAAG:  In daardie jare was die geel (agterste) bowwe by die klubkampioenskappe selfs by sekere putjies verder terug as vandag.  Bv - die 12de se bof was langs-aan die 11de setperk.  Hoe was dit om so 'n lang baan te speel met die ou Persimmon-houte?

FOURIE:  Ek het nog altyd van ‘n lang baan gehou – kan selfs onthou hoe die VSA-beroepspeler Andy Bean in die vertoonwedstryd op die 12de ‘n vyfhout ingeslaan het setperk toe.

VRAAG:  Gee 'n paar  hoogtepunte van jou gholfloopbaan?

FOURIE:  Ek was klubkampioen vir Bloemfontein-gholfklub twee jaar in ‘n ry.  Het ook aan twee SA Amateur-toernooie deelgeneem - Humewood en Oos-Londen.  In Humewood het ek die "cut" gemaak met tellings van 79 en 73.  In Oos-London het ek die voorreg gehad om agter Ernie Els te speel toe hy op 16-jarige ouderdom die SA Amateur gewen het.

Ander hoogtepunte van my gholfloopbaan sluit in al die liga-wedstryde wat ek in die Vrystaat en die Boland gespeel het.  As ligaspeler het ek ongelooflike gholfers ontmoet en het ook talle vriende gemaak.

Ek was ook bevoorreg om provinsiale kleure te kon kry vir Vrystaat en Boland. "My claim to fame" was toe ek in Francois Hanekom se plek vir Boland A moes speel teen die nuwe Springbok Tony Louw  (Boland vs WP op die ou Paarl-baan. Ek was gekies as nommer 1 vir Boland B teen WP, maar Francois het die vorige aand geval en moes onttrek as nommer 1 vir die A span. Die bestuur het toe beslis ek moet op nommer 1 teen Tony speel. Ek was na nege putjies nog gelyk en was gelukkig om hom 2 op te wen.

VRAAG:  Jy speel gereeld saam met Jannie Brink, Danie Brink en Jakkie du Toit.  Watter tweemanskap is die gevaarlikste kombinasie in hierdie vierbal?

FOURIE: Aangesien ek en Jannie altyd teen Danie en Jakkie speel en ons deur die jare ‘n kortkop voor is, is ek en Jannie verseker die gevaarlikste.

VRAAG:  Julle vierbal sit ook altyd na gholf op dieselfde plek en dit word allerweë genoem - "Die vier manne se hoekie." Daar word sekerlik lekker rugby en sport in die algemeen gepraat om daardie tafel?

FOURIE: Ons speel nou al meer as 25 jaar saam en min mense sal glo hoe die kameraadskap ons absoluut laat uitsien om elke Saterdag indien moontlik te kan speel en dan professionele oordeel oor alle sportsoorte te deel.  Ek wil byvoeg dat die 4 manne se hoekie vandag ‘n 8 man hoekie is wat aangevul is deur prof. Eben Archer, Rudi Buys, Pietie Carinus en Vince Nienaber.  Hierdie 8 manne is dan ook die lede van die Wilde Honde-toer wat eersdaags weer sal toer na Robertson.

VRAAG:  Wat is die moeilikste gholfbaan wat jy al gespeel het en gee jou redes hoekom die baan so moeilik was?

FOURIE: Ek het meer as 140 bane in Suid-Afrika gespeel en vir my was die moeilikste baan die Gary Player-baan by Sun City.  Ek het hierdie baan van die agterste bowwe van ‘n 1-voorgee ervaar as ‘n syfer 79.  Genadelose ruveld en ongelooflik goedgeplaasde sandkuile met moeilike setperke maak dit vir my ‘n ware toets vir gholf.

VRAAG:  Wat is volgens jou die moeilikste gholfbane in die Wes-Kaap en gee jou redes?

FOURIE:  My persoonlike ervaring was Hermanus en Rondebosch.  Twee aspekte wat hierdie bane baie moeilik maak, is dat beide bane het groot blootstelling aan die berugte Kaapse Dokter en beide het ook sanderige ruveld. 

VRAAG:   Wat is volgens jou die beste syfer 4 van die Stellenbosch-baan?

FOURIE:  Dit was altyd nommer 10, maar die nuwe 18de van die agterste bof af is ‘n werklike toets met goed geplaasde sandkuile en water.

VRAAG:  Jou mening oor die nuwe gholfreëls wat vanaf 2019 in werking getree het?

FOURIE:  Ek hou van die nuwe reëls hoewel ons ‘n voordeel het teen vorige jare se tellings, maar die spel is defnitief vinniger en maak dit meer aangenaam om te speel.

VRAAG:   Wat is die beste wenk wat jy ooit al gekry het oor gholf?

FOURIE:  Peter Vorster het my geleer om die bal van links na regs en regs na links te werk deur slegs jou “stance” te wysig.  Min mense weet dit, maar Peter Vorster was in die jare 60’s deur Jack Nicklaus beskou as een van die beste ysterspelers in die wêreld.

VRAAG:   Meen jy die nuwe gholfreels maak die spel vinniger?

FOURIE:  Beslis

VRAAG:  Spoed van Stellenbosch se setperke - hou jy daarvan as die setperke vinnig of effe stadiger is?.

FOURIE:  Ek hou van vinniger setperke aangesien ek dink die ware toets van setwerk kom uit wanneer spoed en lyn “ge-married" moet word. Ek hou van egalige rol van sette en om nie te “jab” nie

VRAAG:  Het jy al 'n kolhou behaal?

FOURIE:  Ja - ek het 3 unieke kolhoue behaal aangesien een in Transvaal, een in Vrystaat en een op Stellenbosch se 13de was.  Sal graag een in Natal wil kry.  (dit was voor ons land so baie provinsies gehad het)

VRAAG:  Laagste telling ooit op Stellenbosch?

FOURIE:  Sjoe, dit is lank terug, maar dit was 68.

VRAAG:  Het jy 'n laer telling op 'n ander baan al gespeel?

FOURIE:  Ja, my laagste telling was 66 op die Bloemfontein-gholfbaan en 67 op Tempe se gholfbaan.

VRAAG: Laagste voorgee ooit?

FOURIE:  Scratch - 0-voorgee.

VRAAG:  Huidige voorgee?

FOURIE:  8.

VRAAG:  Jy was lank uit gholf weens 'n rugbesering - is jy nou weer perdfris?  En moes jy swaaiaanpassings maak om jou rug te beskerm?

FOURIE:  Ek is baie dankbaar om weer te kan gholf speel en ek het my swaai en tempo aangepas, maar ek sien uit om in die toekoms weer lekker kompeterend te kan deelneem.

VRAAG:  Wat beteken gholf as mens vir jou?

FOURIE:  Gholf het vir my baie lesse geleer soos om kalm te bly wanneer dinge nie altyd in jou guns is nie; om aan te hou om jou doelwitte te bereik; om mededeelsaam te wees; om saam te werk as ‘n span.  Ek is dankbaar dat die Liewe Vader my weer ‘n geleentheid gee om saam met ongelooflike vriende en kennisse weer my sport te geniet.