Robbie Oosthuizen

Die 44-jarige Robbie Oosthuizen het die Stellenbosch-klubkampioenskappe op dramatiese wyse gewen nadat hy betrokke was in ‘n uitspeelstryd oor 4 putjies.

Ek het vandeesweek met hierdie ervare gholfspeler (hy was ook vir ‘n paar jaar ‘n beroepspeler op die Sonskynreeks) gaan gesels oor hoe hy die spel gholf benader.


VRAAG:  Jy is ‘n boorling van die Noordweste.  Vertel ons meer van jou skooljare en aan watter sportsoorte jy deelgeneem het?

OOSTHUIZEN:   Ek was op skool in Klerksdorp op Klerksdorp Hoër en het krieket, tennis en rugby gespeel.


VRAAG:  Hoe oud was jy toe jy begin gholf speel het?

OOSTHUIZEN: Toe ek 15 jaar oud was, het ek tydens ‘n krieket-spanbousessie ‘n bietjie gholfballe geslaan, maar eintlik eers die volgende jaar begin speel.


VRAAG:  Jou jonger broer Anton het ook as junior begin gholf speel – was daar sterk mededinging onder julle as juniors?

OOSTHUIZEN:  Omdat ek so laat begin gholf speel het, het ons nie rerig in gholf as juniors gekompeteer nie, want toe Anton hoërskool toe gaan was ek al klaar met skool en op pad na die Universiteit.  Ons het wel mekaar lekker opgekeil in tennis en krieket.


VRAAG:  Voordat jy beroepspeler geword het - gee ons ‘n kort oorsig oor jou loopbaan as amateur.

OOSTHUIZEN:  In my matriekjaar is ek gekies vir die Noordweste se junior gholfspan, maar ek kon ongelukkig nie gaan nie, want dit het plaasgevind dieselfde tyd as die Nuffield-krieketweek waar ek gespeel het as lid van die Noordweste se o.19-krieketspan.

Die volgende jaar is ek gekies vir Noordwes se o.23-gholfspan asook Transvaal se o.23-gholfspan. Daarna het ek Noordwes verteenwoordig op die SA Platteland-toernooi asook die SA IPT-gholftoernooi.

In 1996 het ek verhuis na die Kaap en het in 1997 en 1998 vir die WP-gholfspan gespeel.

In 1998 het ek my nasionale kleure in gholf gekry toe ek vir die Proteas gespeel het in ‘n sone 6 internasionale-toernooi.


VRAAG:  Jou volgende loopbaan-stap as gholfspeler was om ‘n beroepspeler te word?

OOSTHUIZEN:  Ek het in 1999 ‘n  paar mini-toernooie in die VSA gaan speel en het in 1999 November my spelerskaart vir die Sonskynreeks verwerf toe ek onder die top-5 was tydens die Q School-toernooi.


VRAAG:  Hoe lank het jy as beroepspeler gespeel en wat was hoogtepunte tydens daardie jare?

OOSTHUIZEN: Ek was net 3 jaar en 6 maande ‘n beroepspeler en ‘n jammerte in daardie jare was dat daar nie baie toernooie was om in te kon speel nie.  My beste plasing was ‘n 14de plek tydens ‘n toernooi op die Wild Coast-baan.


VRAAG:  Nadat jy jou amateurstatus teruggekry het - het jy weer begin om provinsiale gholf te speel?

OOSTHUIZEN:  Ek het dadelik weer vir Noordwes begin speel in 2004 en het vir die unie deelgeneem aan die SA Platteland-toernooi asook die SA IPT.

Ek is weer in 2006 terug na die Kaap en het vir die Strand-klub liga-gholf gespeel.  In 2008 het ek weer begin om aan ope-toernooie deel te neem en is in 2009 en 2010 vir die WP-span gekies vir die SA IPT-toernooi.

In 2012 het ek vir die WP se Mid-Am-span gespeel.  In 2015 het ek by Stellenbosch-klub aangesluit en het nog elke jaar vanaf 2015 vir die Bolandse Mid-Am-span gespeel.


VRAAG:  Toe jy onlangs die Stellenbosch Klubkampioenskappe gewen het, moes julle vir  4 putjies uitspeel. Vertel ons meer van jou baan-strategie tydens die uitspeelstryd?

OOSTHUIZEN:  Die bof op die 18de was voor geplaas en die pen links voor op die setperk. As jy ‘n drywer baie akkuraat geslaan het, kon jy op die setperk kom.  Omrede die water so sterk in spel kom indien jy ‘n drywer slaan vanaf die bof voor het ek besluit om ‘n 5 yster elke keer te slaan, want ‘n goeie 5-yster sou vir my los met 80 meter tot by die pen.  80 meter is die perfekte afstand vir my “L-wedge” en dis hoekom ek besluit om ‘n 5 yster te slaan. Ek het elke keer my 5 yster baie konstant vanaf die bof geslaan – die onderskeie afstande wat ek oor die vier uitspeelputjies na die setperk gehad het, was onderskeidelik 81 m, 79 m, 80 m en 78 meter.  Ek kon gevolglik my naderhoue aggressief speel.  Die ander ouens het drywers geslaan en hul naderhoue was korter, maar hulle kon dit nie agressief speel nie.  Dit is maar die manier hoe ek my gholf speel – ek los vir my altyd die afstand na ‘n setperk wat my pas en daarom slaan ek in baie toernooie op syfer 4-putjies eerder ‘n yster  vanaf die bof.


VRAAG:  Jy en jou broer Anton is gewoonlik beurtspel-maats vir die Boland Mid-Am-span asook die Stellenbosch-ligaspan - wat maak julle so 'n gevaarlike en
goeie kombinasie?

OOSTHUIZEN:  In die eerste plek meen ek dat jy en jou beurtspel-maats goed met mekaar oor die weg moet kom.  Omdat ons broers is, is dit maklik om saam met hom te speel.  Ons uitkyk tot die spel komplimenteer ook mekaar as beurtspel-maats.  Waar Anton meer waaghalsig is, is my strategie meer om altyd die bal in spel te hou.  Hierdie kombinasie werk uitstekend vir baie bane, maar bane met “tight fairways” beproef nogals hierdie kombinasie baie.


VRAAG:  Jy word allerweë beskou as een van die spelers wat die gholfswaai tegnies baie goed ken.  Wat meen jy is die "fundamentals" van 'n gholfswaai wat vir die gewone klubspeler goeie resultate sal oplewer?

OOSTHUIZEN:  Wat vir my die beste werk is wat hulle in “coaching terms” noem ’n neutrale swaai. Dit beteken dat jy nie net een manier het wat jy die heeltyd speel nie – met ander woorde:  nie net ‘n draw of ‘n fade nie.  Ek sou sê vir die gewone klubspeler is dit dalk nie die regte manier van speel nie, want hulle sal dalk net nie die vertroue in die swaai hê om die ander tipe houe te probeer nie.Vir die klubspeler sou ek sê die beste fundamentals sou wees: postuur en die greep - as dit eers daar is behoort die gholfswaai baie beter en meer
repeterend te raak.

VRAAG:  Wat is die aspekte waarop jy konsentreer as jy oefen en balle slaan?

OOSTHUIZEN:  Ek is nou vir die laaste 3 jaar besig om te werk aan hoe die gholfstok afkom na die bal toe en ek sal seker vir nog 3 jaar besig wees daarmee, want ek besef nou eers dat die terugswaai het eintlik niks met die gholfswaai te doen nie maar dat die belangrikste aspekte van die gholfswaai is: hoe die stok terugkom na die bal en hoe die gesig van stok is by impak-posisie.  Waarop ek konsentreer is om te sorg dat my hande/arms dwarsdeur my gholfswaai voor my lyf bly.  Dit maak dat my impak-posisie konstant  bly en ek hoef nie so baie staat te maak op “timing” (soos dit was gedurende my vroeëre jare as speler nie).


VRAAG:   Hoe belangrik is dit om met gholftoerusting te speel wat pas by jou swaai, swaaispoed ens?

OOSTHUIZEN:  Dit loop alles hand aan hand, want as jou toerusting nie reg is vir jou nie, sal jy nooit die posisies of vlug kry waarna jy soek nie.  So dit is net so belangrik soos om te oefen of ‘n afrigter te gaan sien.

VRAAG:  In jou loopbaan as gholfspeler - wat is die mees algemene fout wat jy sien by die gewone klubspeler?

OOSTHUIZEN:   Almal wil op die oefenbof staan en balle slaan en glo dit gaan jou ‘n beter speler maak, maar ongelukkig is dit nie waar nie.  Beter gholftellings en ‘n laer voorgee se oorsprong is in harde werk met jou kortspel en veral setwerk.


VRAAG:  Vir iemand wat al so baie bereik het in gholf - wat is jou volgende doelwitte in gholf?

OOSTHUIZEN:  Ek stel vir my doelwitte elke jaar en ja die laaste paar jaar het ek nie alles bereik wat ek wou nie,  maar elke jaar probeer ek myself verbeter en om myself in soveel moontlike “pressure”-situasies te sit as wat ek kan om sodoende meer en meer oor “pressure”  in gholf te verstaan.  Miskien sal ek eendag weer myself ‘n kans gee om op ‘n hoër vlak mee te ding as amateur.

VRAAG:  Wat meen jy kan jong en talentvolle gholfspelers in die Boland beter doen sodat Boland by die SA IPT weer 'n groot krag kan wees?

OOSTHUIZEN:  Weer eens gaan dit hier oor kompetisie en ek glo nie die Bolandse jonger spelers kry nie genoeg daarvan nie.  Ongelukkig is die kompetisie in die Boland  “few and far between”.  ‘n Ander faktor is dat daar nie genoeg diepte is nie.  In ander provinsies is daar omtrent 30 spelers van dieselfde gehalte wat teen mekaar meeding in toernooie, maar dis nie die geval in die Boland nie.


VRAAG:  Wie het die grootste invloed op jou gehad as gholfspeler?

OOSTHUIZEN:  Toe ek begin speel het, het Quinton Jansen (hy was reeds ‘n nul-voorgee op 13-jarige ouderdom) - my baie gehelp. Twee ander manne wat baie vir my beteken het as gholfspeler was Philip Sanderson en sy broer Colin.  Ek het baie by Philip geleer oor die gholfswaai (en sien hom nog steeds elke tweede maand vir ‘n oefensessie), terwyl ek en Colin altyd interessante gesprekke gehad het oor die sielkundige kant van gholf. 

‘n Ander persoon wat ‘n groot invloed op my as gholfspeler gehad het, was Brian Lefson.  As spanbestuurder was Brian iemand wat altyd die beste gehaal het uit al die spelers en ons het baie kere tot laat in die aand hieroor gesels.  

Ek het vir Corrie Swiegelaar ontmoet net nadat ek by die Strand-klub aangesluit het, en by hom het ek geleer waarom ‘n klub en sy ligaspan so ‘n belangrike aspek van gholf as spel is.


VRAAG:  As jy ‘n paar hoogtepunte kan uitsonder - watter hoogtepunte sou dit wees?

OOSTHUIZEN:  Die tweede toernooi waarin ek gespeel het, nadat ek na die Kaap verhuis het, was die Stellenbosch Ope in 1997 en ek het daardie ope gewen.  

In 1998 het ek vir die eerste keer Strand se klubkampioenskappe gewen.  Die toernooi het plaasgevind in ‘n baie sterk wind en my telling was 16 houe minder as baansyfer en was 10 houe beter as my naaste teenstander – en in daardie jare het die Strand-klub talle goeie liga-spelers gehad – insluitende 5 WP-spelers.

My insluiting in die SA nasionale gholfspan was natuurlik ook ‘n hoogtepunt.  Voordat die span gekies is, het ek in die SA amateur-toernooi op Mt Edgecomb gespeel en was ‘n paar houe agter die voorloper met nog een ronde om te speel.

Ek het daardie aand my pa gebel en gesê ek is vol vertroue om die SA span te maak, maar hy het my gemaan om eers seker te maak van nog ‘n goeie ronde voordat ek aan sulke dinge moet dink.  Ek het die toernooi baie goed geëindig en toe ek van die baan af stap was albei my ouers daar om my geluk te wens.  My naam is later die dag afgelees as lid van die SA span – dit was ‘n spesiale dag in my lewe.


VRAAG:  Laagste bruto telling ooit - asook op watter baan?

OOSTHUIZEN: Klerksdorp 61, Devonvale 62, Strand 63.



VRAAG:  Laagste bruto telling ooit op die Stellenbosch-baan?

OOSTHUIZEN: 65

VRAAG;  Is daar enige putjies op Stellenbosch wat veranderinge benodig om die putjies 'n groter uitdaging te maak?

OOSTHUIZEN: Nee wat -  ek dink Louis (Destroo) het goeie beheer oor die baan, want wanneer ons
toernooie daar speel is die baan altyd verskillend. So nee -ek hou van die baan net soos hy is -  ‘n baie goeie “layout.”

VRAAG:  Wat beteken gholf as mens vir jou?

OOSTHUIZEN: Gholf is vir my soos die lewe.  Jy kan altyd hard daaraan werk maar dit is nie te sê dat alles elke dag vlot sal verloop nie.  Gholf het my ook baie oor die lewe geleer, want dit is ‘n spel wat jou etiek, geduld en baie ander eienskappe van jou as persoon toets.  In die lewe ervaar jy baie kere dieselfde toetse.