Op 88-jarige ouderdom Theo van Robbroeck nog steeds baie aktief op die gholfbaan en hy was onlangs onder die wenners tydens ‘n klubkompetisie. Van Robbroeck het ‘n baie interessante werkloopbaan gehad, maar beskou die dag wat hy gholf “ontdek“ het as een van sy grootste hoogtepunte.
Hierso volg my volledige onderhoud met hierdie energieke 88-jarige lid:
VRAAG: Jy kom oorspronklik vanaf België. Waar in België het jy groot geword en wanneer het jy na Suid-Afrika gekom?
VAN ROBBROECK: Ek is gebore en het grootgeword in ’n dorp met die naam Terhagen, aan die oewer van die Rupelrivier, tussen die stede Antwerpen en Mechelen.
VRAAG: Waar het jy jou skoolopleiding asook universiteitsopleiding gehad?
VAN ROBBROECK: Ek was my hele hoërkoolloopbaan op kosskool in Mechelen - een of ander tyd in die geskiedenis die hoofstad van die Nederlande. Daarna het ek studeer in Handelswetenskappe in Antwerpen, maar voor ek klaar was daarmee, het ek begin met Ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch, oor ons familie in 1952 Suid Afrika toe getrek het. Ek het die hele eerste kwartaal gemis en moes die agterstallige werk inhaal en dan nog in Afrikaans, wat ek vanaf die begin egter heel goed verstaan het! Ek het die vyf-jaar graad van destyds in 1956 voltooi.
VRAAG: As finale jaar student op Maties het jy vir die eerste keer kennis gemaak met die Stellenbosch-gholfklub – hoe het dit gebeur dat jou paaie gekruis het met dié van die gholfklub?
VAN ROBBROECK: Een van die onderwerpe vir ‘n “skripsie” in my finale jaar (1956) was ‘n volledige topografiese opmeting van die terrein van die nuwe Stellenbosse gholfbaan op munisipale grond, die ontwerp van ‘n reservoir op die koppie waar nou die telekomunnikasiemaste staan en die ontwerp van ‘n besproeiingstelsel vir die destydse 9 putjie-uitleg. Ek en twee mede-studente in Siviele Ingenieurswese, tewete James Barnard (tans dr. Barnard van Kansas City) en Cassie Grobler het die skripsie gekies, waarskynlik hoofsaaklik vir die geld, maar in my en James se geval ook omdat ons veral belanggestel het in die water gedeelte van die projek, waar ons beide dan ook ons hele loopbaan was. Die kaart is deur die Klub gebruik om die uitbreidings te beplan.
VRAAG: Gee ons ‘n kort oorsig oor jou professionele loopbaan.
VAN ROBBROECK: Ek het my loopbaan in die waterboukundige veld by die departement van Waterwese in Pretoria begin en was tot 1991 daar, behalwe vir drie jaar waar ek in die destydse SWA vir raadgewende ingenieurs in dieselfde veld gewerk het. Ek was betrokke by die beplanning, ontwerp en konstruksie van groot damme en ander groot waterwerke en het deur die range gevorder tot die hoofbestuur. Van 1991 tot 1995 was ek Direkteur Generaal van die Departement van Openbare Werke.
VRAAG: Waar het jy begin om gholf te speel en hoe oud was jy toe?
VAN ROBBROECK: Ek het begin met gholf na my aftrede op 64 op die baan van die Presidensie in Pretoria.
VRAAG: Wat het jou geprikkel om te begin met gholf?
VAN ROBBROECK: Ek het altyd tennis gespeel, maar het my skouer beseer, sodat ek nie meer kon afslaan nie. Coenie de Villiers, ook ‘n gewese DG, het my tot die spel verlei, waarvoor ek hom ewig dankbaar sal wees.
VRAAG: Van wanneer af is jy lid by die Stellenbosch-gholfklub?
VAN ROBBROECK: Na my aftrede het ek en my vrou gereeld vakansie kom hou in ons huis op Lieberheim (Paradyskloof) en het ek buitelid van die Stellenbosch-gholfklub geword, terwyl ek steeds in Pretoria lid was. Sedert ons hierheen voltyds getrek het in 2004 is ek gewone lid.
VRAAG: Jy is tans waarskynlik die oudste aktiewe lid van die gholfklub en min spelers is nog aktief op jou ouderdom. Wat is jou resep om nog lekker fiks te bly vir gholf?
VAN ROBBROECK: Ek het die meeste van my lewe baie las gehad van ‘n seer rug. ‘n Biokinetikus in Pretoria het my ‘n oefenprogram voorgeskryf, wat ek elke oggend getrou volg. Nou is my rug reg, maar het ek weer ander skete. ‘n Deel van my resep is geesdrif.
VRAAG: As jy nou terugkyk vanaf jou beginjare as gholfspeler tot vandag – wat is die grootste veranderinge wat jy opgemerk het ten opsigte van gholf as spel; gholftoerusting en gholfbane oor die algemeen?
VAN ROBBROECK: Die grootste verandering is waarskynlik die toerusting, want ek sien die bal steeds verder trek. Die voorgeestelsel het ook baie verander. Stellenbosch se baan het aansienlik verbeter.
VRAAG: Jy speel gereeld saam met die seniors – wie is die senior manne wat altyd gevaarlik is met hul lae tellings?
VAN ROBBROECK: Die gevaarlikstes is juis die manne met die hoë tellings en nog hoër voorgees!
VRAAG: In jou gholf-loopbaan – wat was jou gunsteling stel stokke waarmee jy gespeel het? En hoe lank het jy daarmee gespeel?
VAN ROBBROECK: Ek het begin met nagemaakte Pings met die naam King. Dit het veselglas-stele gehad - reg vir my ouderdom. Ek speel nou al dekades met Taylor Made-ysters, ‘n Titleist-drywer en Cobra-houte. So lank hulle nie breek nie of gesteel word nie, is hulle reg vir my. Dis hoe jy slaan, nie wat jy slaan nie.
VRAAG: Met die feit dat spelers nou kan kies van watter bowwe hulle wil speel – geniet jy dit baie meer nou dat jy meestal vanaf die blou bowwe speel?
VAN ROBBROECK: Ek was aanvanklik teensinnig om drie of vier houe af te staan om vanaf die blou bowwe te speel, want op ’n goeie dag kon ek daardie houe benut, maar nou vind ek dat die blou bowwe beter by my pas. Dalk een van die dae rooi?
VRAAG: Het jy al jou ouderdom geklop in gholf? En indien nie – wat is die naaste daaraan wat jy gekom het?
VAN ROBBROECK: Nog nooit naby gekom nie. Ek het ‘n paar keer negentig gebreek, maar dit is nogal lank gelede, te lank om my destydse ouderdom te onthou. Dalk doen ek dit een van die dae as ek in die negentigs is!
VRAAG: Watter ander bane as Stellenbosch is gunsteling-bane by jou?
VAN ROBBROECK: Ek was enkele jare lid van die Pretoria Country Cub, maar die baan is sedertdien baie moeiliker gemaak. Ek hou van die oorspronklike 18 van Hermanus.
VRAAG: Het jy al die geleentheid gekry om van die bekende gholfbane oorsee te speel en watter van hierdie bane het groot indruk op jou gemaak?
VAN ROBBROECK: Ek het nog net een keer oorsee gespeel – op ‘n 9-putjie baan in Olen, België. Dit is na die oorlog deur die RAF vanaf ‘n militêre vliegveld omskep in ‘n gholfbaan. Georges Moereels, destyds een van die swaeltjies van ons klub, was daar lid.
VRAAG: Watter putjie op die Stellenbosch-baan se dryfhou vind jy die mees uitdagende?
VAN ROBBROECK: Definitief die 8ste. Was een keer betrokke by ‘n beterbal houespel-kompetisie met ‘n baie goeie speler as maat toe ons by die 8ste se bof aantree. Ons was toe ses onder na sewe putjies! Hy slaan toe sy bal buite perke en myne beland in die dik gras teen die helling regs. Ons kon dit nie vind nie en dit was die einde wat die kompetisie betref! Ek beland gereeld in die bosse aan die regterkant omdat ek oorkompenseer vir die helling en bang is vir wat met my maat gebeur het.
VRAAG: En watter van die syfer 5-putjies vind jy die moeilikste?
VAN ROBBROECK: Die 14de met sy lang opdraende.
VRAAG: Binnekort gaan die „strokes“ van bane verander ten opsigte van al die syfer 5-putjies, en die syfer 5-putjies gaan onderskeidelik streep 1, 2, 3 en 4 wees. Wat is jou opinie daaroor? Is die syfer 5-putjies werklik die moeilikste putjies op die baan vir spelers met ‘n hoë voorgee?
VAN ROBBROECK: Vir my en baie van die seniors waarmee ek gereeld speel is al die syfer 5’s moeilik, hoewel die negende putjie vir my ook moeilik is.
VRAAG: Wat is die laagste telling wat jy ooit al gespeel het?
VAN ROBBROECK: Te ver in die verlede om nog te kan onthou. Sal egter nie ver onder die 90 wees nie.
VRAAG: Het jy al ‘n kolhou behaal?
VAN ROBBROECK: Ja, op die sewende putjie van Stellenbosch.
VRAAG: Laagste voorgee ooit?
VAN ROBBROECK: Ook te lank gelede. Dink dit was 18 of so.
VRAAG: Huidige voorgee?
VAN ROBBROECK: 26.
VRAAG: Wat beteken gholf vir jou as mens?
VAN ROBBROECK: Gholf beteken meer vir my as wat ek in woorde kan uitdruk. Dit hou my gesond en wakker. Ook is dit die plek waar ek my “portuur”-groep, soos my vrou dit stel, aantref.