Johnnie Loubser

Daar is nie baie lede van die Stellenbosch-gholfklub wat die beroemde Bobby Locke sien speel het nie.

Klublid Johnnie Loubser is een van die groepie lede wat Locke in aksie gesien het, maar waarskynlik meer belangrik – Johnnie het as jong seun vir Locke goed leer ken.

Hierso volg my onderhoud met Loubser:

Vraag:  Jy kom uit 'n gholf-familie - vertel ons meer van jou gholf-familie en spesifiek van jou pa se betrokkenheid in gholf.

Loubser:  My pa (Johnnie) se blootstelling aan gholf het begin toe hy as jong seun die manne se sak begin dra by die Paarl-gholfklub.  Hy het onder meer die sak gedra van Ward Gant.   Gant was ‘n baie bekende in die besigheidswêreld en het die Gants-inmaakbesigheid begin.

Ek kan nie presies onthou wanneer my pa (‘n nullo-speler) begin speel het nie, maar hy was ‘n goeie gholfspeler en was verskeie kere klubkampioen by Paarl, Worcester en Robertson.

Hy was by twee geleenthede intens betrokke by baan- verskuiwings, naamlik by Paarl en Robertson. Hy was vir baie jare in sy vrye tyd die baanopsigter by Robertson.  In daardie jare was daar geen besproeiingstelsel op Robertson se baan nie - twee werkers moes die pype met die hand skuif.  Die gehalte van Robertson se baan was sy trots en Bobby Locke was van opinie dat Robertson se baan die beste 9-putjie-baan in die Wes-Kaap was.  Die skoonvelde was so goed dat Locke met gemak ‘n drywer vir sy tweede hou kon gebruik indien hy dit sou verkies

My pa was baie lief vir die beurtspel-formaat en het ook ‘n beker geskenk aan die Boland-unie waarom die klubs jaarliks meegeding het.  Die beker het egter voete gekry maar iemand het gesê dat dit skynbaar weer gevind is.

Vraag:  Jou pa het ‘n groot rol gespeel in die ontstaan van die Bobby Locke Ope op Robertson.  Vertel ons meer hiervan.

Loubser: My pa het op Worcester in die laat  jare veertig  teen Bobby Locke gespeel.  Locke was so beindruk met my pa se spel dat hy hom genooi het om saam met hom te gaan op ‘n gholftoer in die Suid-Kaap.  My pa moes dit egter van die hand wys, want hy was ‘n staatsamptenaar en kon nie maklik verlof kry nnie.

My pa en Locke het egter baie goeie vriende gebly en Bobby Locke het dikwels by ons aan huis gekom wanneer hy in die omgewing was.

Robertson se lede het my pa gevra om ‘n vertoonwedstryd op Robertson te reël vir Bobby Locke.  Die toegangsgeld was 5 sjiellings (50c). 

Van sy kant af het Bobby die toegangsgeld teruggeskenk aan die klub en ‘n beker is aangekoop (wat voortaan sou bekend staan as die Bobby Locke-trofee).

Op 31 Mei elke jaar het spelers van die WP en die Boland om hierdie trofee meegeding op Robertson en dit het gedien as soort van proewe vir die kies van spanne vir die twee unies.  Bekendes soos Brian Lefson van die WP het in hierdie toernooi gespeel asook Stellenbosse lede soos Tienie Hendriksz en Charl Bergh.

Vraag:  Jy het Bobbie Locke self in aksie gesien op die baan.  Oomblikke wat jy nog goed kan onthou?

Loubser:  Bobby Locke het altyd die bal “gedraw” – dws die balvlug was van regs na links.  Daarom was hy altyd versigtig om te speel indien iemand regs voor hom was (dit kom waarskynlik vanaf die keer toe hy ‘n dame tydens ‘n groot toernooi raak geslaan het).  Ek het eendag self gesien toe hy geweier het om ‘n hou te spel omrede die speler (ek dink dit was Bart Zaayman) vooruit geloop het aan sy regterkant.   

Vraag:  Was jou pa die persoon wat jou aan gholf bekend gestel het?

Loubser:  Ja

Vraag:  Hoe oud was jy toe jy begin speel het en op watter baan was dit? 

Loubser:  Ek was nog op laerskool op Robertson en ek en my suster het Sondae na Sondagskool saam met hom op die baan gaan speel.  Ons elkeen het ons eie stokkie gehad – ek het myne nog steeds en gebruik dit nog baie onder uit bome asook wanneer ek ‘n “tight lie” het!  Ek en my suster het elke hou van die skoonveld vanaf ‘n “tee” gespeel. 

Vraag:  Waar het jy jou eerste 18 putjies gholf gespeel en kan jy jou telling nog onthou?

Loubser:  Ek kan nie onthou wanneer ek op my eie in ‘n kompetisie vir die eerste keer gespeel het nie.  Ek kan ook nie die telling onthou nie, maar dit was seker meer as 100. Ek dink ek het meer 100’s gemaak as die meeste krieketspelers!

Vraag:  Was jy lid by ander klubs voordat jy by Stellenbosch aangesluit het?

Loubser:  Nee

Vraag:  Van wanneer af is jy lid by die Stellenbosch-gholfklub?

Loubser:  Om en by 1982 – geen intreegelde!

Vraag:  Kan jy nog die naam onthou van jou eerste gholfstel wat jy gehad het?

Loubser:  Nee, maar ek onthou dat dit ‘n Kersgeskenk was in my  std. 9 jaar by Boishaai.

Vraag:  Wat was jou gunsteling stel ysters van al jou stokke wat jy al gespeel het?

Loubser: King Cobra’s met grafiet-stele.

Vraag:  Wie is moeilikste teenstanders by die Stellenbosch-klub en hoekom is hulle sulke gedugte teenstanders?

Loubser:  Almal is, want ek probeer elke keer om my opponente te klop en kry dit selde reg!

Vraag:  Jy en jou vrou speel ook die afgelope klompie jaar gereeld saam gholf.  Is julle goeie "partners" en wat die geheim van 'n lekker-man-en-vrou-kombinasie?

Loubser: Ja, ek dink ons is ‘n baie gedugte kombinasie.  Die geheim is ons “coach” nie mekaar nie.  Sy is baie kompeterend en is gewoonlik ons tweebal se motiveerder! Die enigste konsep wat sy nie verstaan nie  (en wat vir my ‘n frustrasie is) is ‘n ‘vry sethou”.

Vraag:  Het jy al 'n kolhou behaal?  

Loubser: Nee, ongelukkig nie. Die naaste was op Beaufort-Wes se 4de waar die balletjie skynbaar deur die gat gerol het.

Vraag:  Laagste voorgee ooit?

Loubser: 12 – toe ek met studieverlof by US was in 1986.

Vraag:   Huidige voorgee?

Loubser:  21

Vraag:  Laagste telling ooit op Stellenbosch se baan?

Loubser:  Dit was 83 (40 op die 1ste 9) met die pa/kind-kompetisie wat ek en my skoonseun gewen het!

Vraag:  Laagste telling op enige ander baan?

Loubser:  85

Vraag:  Buiten Stellenbosch - watter ander bane is gunstelinge?

Loubser:  Hermanus – ons het daar ‘n vakansiehuis en ek en my vrou is albei vollede.  Verder is Fancourt se bane groot gunstelinge by my (behalwe die Links) asook Arabella.

Vraag:  Wat is jou mening oor die kondisie van die Stellenbosch-gholfbaan?  

Loubser: Tans is dit uitstekend ten spyte van die droogte – die goeie setperke verdien spesifieke vermelding.  Die modderkuile (op ander bane is dit sandkuile) kort egter BAIE aandag.

Vraag:  Watter putjie is vir jou persoonlik die moeilikste op die baan?

Loubser:  Die 5de putjie.  Dit is net te lank (alhoewel ek onlangs ‘n voëltjie daar aangeteken vanaf die bloubof – goeie dryf, 3-hout en ‘n 5 yster, vir ‘n “tap in birdie”!

Vraag:  Is daar enigiets wat die bestuur/komitee  van die Stellenbosch-gholfklub nog kan doen om die ervaring by Stellenbosch-klub nog beter te kan maak vir lede asook besoekers?

Loubser: Die sandkuile is beslis een ding wat op standaard moet kom.  Dan meen  ek ook dat die kroegdiens kan verbeter – die klub sal baie meer verkope hê indien hulle dit sou opskerp.  ‘n Ander gedagte om aan te herkou – wat van ‘n hyser na die halfweghuis! J

Vraag:   Wat beteken gholf vir jou as mens?

Loubser: Dit is en bly ‘n toets vir jou karakter.  Alhoewel jy verskeie opponente het, is jou gedugste opponent jouself.