Onderhoud met Jahndre du Toit

In ‘n goeie regering speel die Minister van Finansies altyd ‘n groot rol vir stabiliteit en fiskale beheer.Stellenbosch-gholfklub is baie gelukkig dat hy in Jahndre du Toit (hoof van finansies en administrasie) oor ‘n uiters bekwame en hardwerkende personeellid beskik.  Du Toit is nie iemand vir die kollig nie en dit het baie oorreding vanaf my kant gekos om hom te kry om hierdie onderhoud met my te doen.Benewens ‘n staatmaker in sy werk is Jahndre boonop ‘n puik gholfspeler en het onlangs die Paarl Mid-toernooi gewen.  Hy en sy pa Kowie du Toit  is ook een van die mees gedugte Pa-en-seun-kombinasies by die klub.

Hierso is my onderhoud met hom: 

VRAAG:  Waar was jy op skool en aan watter sportsoorte het jy op skool deelgeneem?

DU TOIT:  Ek was eers op Laerskool Eikestad en daarna ‘n leerder by  Paul Roos Gimnasium. Op skool het ek krieket, tennis en gholf gespeel.  Ek was maar treurig in rugby, maar was darem een van die ouens wat ewe goed links en regs kon skop?

VRAAG: Hoe oud was jy toe jy vir die eerste keer gholf gespeel het?

DU TOIT:  Ek was 14 jaar oud.

VRAAG:  Het jy maar jouself geleer om gholf te speel of het jy lesse gehad?

DU TOIT: Ek het op die plaas sommer maar net rondgespeel met ‘n paar stokke wat ons gehad het.  Toe ek op die baan begin speel het, het Tienie Hendriksz vir my lesse gegee. Hy is die enigste een by wie ek al lesse gehad het.

VRAAG:  Wie was jou groot gholfmaats as juniors?

DU TOIT: Daar was baie! Net om ‘n paar te noem - Louis Destroo, Jean Hugo en sy broer Jacques, Bart Nel, Hugo Stark, Riaan de Kock. Ons het darem baie gholf gespeel.

VRAAG: Wat was jou top-prestasie as ‘n junior gholfspeler?

DU TOIT: Boland junior kleure in gholf.

VRAAG: Van wanneer is jy lid by die Stellenbosch-gholfklub?

DU TOIT: 1990

VRAAG:  Jy het ook ‘n paar jaar oorsee gaan werk. Vertel ons meer daarvan en kon jy ook ‘n bietjie gholf speel in Engeland?

DU TOIT: Ek was vir so 5 jaar in Engeland gewees, meestal net gewerk  - baie min gholf gespeel.  Die eerste paar jaar het ek in die “hospitality” industrie gewerk, die laaste paar jaar in “golf retail.” Ek was ook vir 6 maande Jean Hugo se “caddy” op die European Challenge Toer.

VRAAG:  Terug in Suid-Afrika is jy in die finansiële kant by die gholfklub aangestel.  Wat is die grootste uitdagings vir jou in jou werk?

DU TOIT:  Aan die finansies-kant is dit my doel om die maandelikse state stiptelik en akkuraat aan Chris (bestuurder)  en die komitee te voorsien. Aan die administratiewe kant streef ek daarna om elke lid gelukkig te hou en te kan help waar ek kan. As bestuurspan werk ons regtig baie goed saam , seker omdat nie een van ons dieselfde is nie. Sonder al die ander personeel by die klub wat nou saamwerk , sou ons as bestuur ook nie doeltreffend kon wees nie. Die rol van die komitee moet ook nie onderskat word nie - ek het al so baie geleer by ervare manne soos Johann Roelofse, Allen Hodgkinson en huidiglik Pieter Odendaal.

VRAAG:  As gholfspeler het jy die afgelope jare met groot sukses liga-gholf vir die Stellenbosch-klub gespeel.  Watter liga-hoogtepunte staan vir jou uit?

DU TOIT:  Elke jaar wat ons ‘n beker kon wen, staan natuurlik uit.

VRAAG:  Wat geniet jy die meeste van liga-gholf?

DU TOIT:  Dit moet die spangees wees…Die dae wat Tienie of Dewald Botha ons vroeg Saterdag-oggende kom optel het met hul Kombi’s om te gaan liga speel, was baie spesiaal.

VRAAG:  Jy het ook ‘n paar jaar vir die Boland verteenwoordig op die SA IPT Mid-Am-toernooi.   By watter bane is daardie toernooie gespeel en  hoe het jy die gehalte gholf ervaar by die SA IPT-gholftoernooi?

DU TOIT:  Die toernooie was by Schoemanpark, Durban Country Club en Middelburg. Die gehalte gholf by daardie toernooie is baie baie beter as my gholf.

VRAAG:  Jy het ook pas die Paarl Mid-Am-toernooi gewen.   Wat is die sterkpunte van jou spel tydens die Paarl-toernooi?

DU TOIT:  Chipping en putting.

VRAAG:  Het jy en jou pa Kowie al die Pa-en-seun-kompetisie gewen?  En geniet jy jou gholf baie met jou pa?

DU TOIT: Nog nooit gewen nie - ons was al ‘n hele paar keer tweede, maar dit bly baie lekker om net te kan saam speel.

VRAAG:  Beide jouself en jou pa Kowie is bekend as ouens wat goed kan “chip”.  Is dit iets wat julle saam baie by die huis geoefen het?

DU TOIT:  Ja ons het partykeer heeldag geoefen op die plaas.  Vanaf 60 meter vanaf die setperk is ons nogals dodelik, maar deesdae wil jy net die “green” raak slaan.

VRAAG:  Watter putjie van Stellenbosch-klub vind jy die mees uitdagende en gee jou redes?

DU TOIT: Ek sal sê die 8ste putjie - om net uit die wingerd te bly is moeilik .

VRAAG: Wat is jou laagste bruto telling ooit op Stellenbosch?

DU TOIT: 67

VRAAG: Wat is jou laagste bruto telling op enige ander baan?

DU TOIT: 65 op Devonvale

VRAAG: Laagste voorgee ooit?

DU TOIT: 0

VRAAG: Huidige voorgee?

DU TOIT: 3

VRAAG:  Het jy al ‘n gelukhou behaal?

DU TOIT: Ja – by Devonvale se 13de putjie.

VRAAG:  Watter ander bane in die land is gunstelinge by jou?

DU TOIT:  Durban Country Club -  die uitleg van die baan is uitstekend asook Leopard Creek – die baan praat vir homself.

VRAAG:  Wat beteken die spel gholf vir jou?

DU TOIT: Gholf is moeilik , maar die uitdaging wat dit bied is wat die spel so lekker maak. ‘n Mens moet probeer om dit te geniet al speel jy hoe sleg - die goeie hou sal weer kom. Net daardie een goeie hou op die laaste putjie van ‘n sleg ronde, laat jou sommer uitsien na jou volgende ronde.