In Die Skroewe - Deur Riaan Gerber

In gesprek met Robbie Blair

In die jare sewentig was die skopvoet van Robbie Blair op losskakel een van die grootste redes hoekom die WP se rugbyspan in daardie jare so ‘n krag was.
Blair het in Curriebeker-rugby altesame 956 punte aangeteken.


In 1977 is hy vir die Springbokspan gekies wat teen ‘n Wêreld-vyftiental op Loftus Versveld gespeel het, en het in daardie toets 21 punte met die skoen aangeteken.
In my onderhoud met Robbie het hy onder meer vertel watter losskakels was die beste teen wie hy ooit gespeel het.  Hierso volg die volledige onderhoud.

VRAAG:  Waar was jy op skool?
BLAIR: Grey Kollege Bloemfontein.


VRAAG:  Wat was die beste losskakel teen wie jy ooit gespeel het?
BLAIR:  Hugo Porta van Argentinie was 'n uitstekende losskakel - so goed dat hy op sy eie die Bokke kon klop!  Porta was 'n veelsydige speler en het uitgeblink in al die fasette van die spel - aanval, taktiese skopwerk en verdediging.  Naas Botha was ook 'n klas losskakel en hy kon spel uitstekend beheer met sy puik taktiese skopwerk.  Hy was 'n man vir die groot oomblikke. Naas se skopwerk byvoorbeeld op 'n modderveld was van hoogstaande gehalte - hy het een keer op 'n sopnat Nuweland teen die WP 'n vertoning soos min gelewer op losskakel. Natuurlik was Naas nie juis 'n ou vir verdediging nie, maar in daardie dae was dit die losvoorspelers se taak om die agterspelers te stuit!

VRAAG:  Vertel ons meer van die agterlyn wat saam met jou gespeel het in 1977 vir die Bokke?
BLAIR:  Op heelagter het Dawie Snyman van sy beste rugby ooit gespeel in sy lang loopbaan. Die vleuels was Hermanus Potgieter en Gerrie Germishuys - albei baie vinnige manne.  Dirk Froneman en Christo Wagenaar was die senterpaar en Barry Wolmarans was my skrumskakel - Barry was 'n baie soliede speler. Hy was werklik "tough."  In daardie toets het Theuns Stofberg twee drieë as flank gedruk - Theuns was in daardie jaar beslis die beste flank in wêreld-rugby.

VRAAG:  Die Bokke is baie gekritiseer vir hul spelpatroon tydens vanjaar se Wêreldbekertoernooi maar op die einde was hulle suksesvol.  Jou opinie daaroor?
BLAIR: Wel - die Bokke het die Wêreldbeker gewen - so hul spelpatroon was sekerlik suksesvol.  Dit is 'n feit in moderne rugby dat die span wat die bal die minste het, die beste kans het om te wen.  Dit is egter dan baie belangrik dat die span sy duikslae suksesvol moet uitvoer en dit het die Bokke uitstekend gedoen in die Wêreldbeker-toernooi.  

VRAAG:  Vertel ons wat jy dink van Handre Pollard as losskakel?
BLAIR:  Handre beskik oor al die eienskappe wat vandag verwag word van 'n losskakel - hy is groot, sterk en vinnig en verdedig vreesloos.  Ook het hy 'n geleerde skopvoet.  Ook beskik hy oor 'n belangrike eienskap van 'n top-speler naamlik BMT.

VRAAG:  Jy is ‘n gereelde lid van die die Stellenbosch-gholfklub se Sondagskool.  Vertel vir ons ‘n bietjie meer van die gereelde lede van die Sondagskool.
BLAIR:  Die Sondagskool is 'n unieke groep mense.  Hulle het hul eie reëls en weddenskappe, en het ook hul eie woorde geskep om weddenskappe te verduidelik - soos wanneer jy twee houe in die sandkuil speel is dit 'n Hitler!  Duimpie Bayly is die groot legende by die Sondagskool en hy is al vir meer as 40 jaar die President van die Sondagskool!  Daar is ook geslagte wat deelneem aan die Sondagskool.  Giep Junius het vir baie jare in die Sondagskool gespeel en nou speel sy seun Neno gereeld in die Sondagskool.

VRAAG:  Jy speel ook gereeld ‘n paar rondes deur die week – dis sekerlik een van die groot „perks“ as ‘n ou nie meer voltyds hoef te werk nie?
BLAIR:  Ja, dit is 'n baie groot "perk." Behalwe die Sondagskool-gholf speel ook ook gereeld Dinsdag in Sakkie de Klerk se groep.  Die manne wat daarin speel is almal groot karakters en ek geniet dit baie.  
VRAAG:  Jy is bekend daarvoor dat jy jou setstok baie gebruik vir houe ‘n hele entjie vanaf die setperk.  Werk hierdie metode goed vir jou?
BLAIR:  Dit werk vir my baie goed en dis hoekom ek dit gebruik!  Hier en daar gebruik ek selfs hierdie tegniek uit die sandkuil en het al op die 3de putjie die bal uit die sandkuil tot binne die putjie geslaan met my setstok (en my teenstanders se monde het oopgehang van verbasing!).

VRAAG:  Watter syfer 3 putjie is volgens jou die beste op die Stellenbosch-baan?
BLAIR:  Die 7de is werklik 'n goeie putjie.  Dit uitsig veral is van die mooiste wat jy kan kry.

VRAAG:  Om sonder plasing te speel op die skoonvelde – hoe ervaar jy dit?
 BLAIR:  Ek het nie 'n probleem daarmee nie, maar meen wel as jy op die skoonveld is en jou bal is in 'n "divot" moet jy toegelaat word om die bal 'n telkaart-lengte te "drop".  Ook moet hulle op nat dae wanneer die bal modder op kry, vir spelers toelaat om die bal af te gooi 'n kaart-lengte.

VRAAG:  Wat meen jy kan die Stellenbosch-klub nog beter doen sodat ‘n speler se gholfervaring by die klub nog lekkerder sal wees?
BLAIR:  Oor die algemeen word Stellenbosch-klub baie professioneel bestuur en die baan, klubhuis asook spyseniering is van hoë gehalte.  Wat my egter pla, is dat daar nie streng genoeg optrede is teen stadige spel nie - Stellenbosch-klub kan gerus gaan leer by die Hermanus-klub hoe om stadige spel te bestuur.  Spelers moet ook altyd gereed wees op die baan om "Ready Golf" te speel - tans word dit nie eintlik toegepas nie.

VRAAG:  Laagste voorgee ooit?
BLAIR: 6

VRAAG:  Huidige voorgee?
BLAIR: 10

VRAAG:  Laagste telling ooit gespeel?
BLAIR: 73

VRAAG:  Wat beteken gholf vir jou?
BLAIR:  Gholf is vir my baie goeie oefening, want al ry jy met 'n karretjie stap jy nog steeds 'n hele klompie kilometer op die baan.  Verder is dit lekker om hierdie spel te beoefen in goeie geselskap.