Rudi Buys is ‘n klublid wat altyd reg is met ‘n glimlag en saam met sy gereelde gholfmaat Eben Archer het hierdie twee baie “sports” wanneer hulle gholf speel, asook wanneer hulle terug is in die klubhuis. Hier volg my onderhoud met Rudi.
Vraag: Waar was jy op skool en watter sportsoorte het jy op skool beoefen?
Buys: Ek was op Stilfontein op skool en het deelgeneem aan rugby, krieket en atletiek.
Vraag: Hoe is jy aan gholf bekend gestel en hoe oud was jy?
Buys: My pa het al die jare gholf gespeel as lid van die Stilfontein-gholfklub. Hy was ook lank komiteelid van die klub. Ek het as seun vir my pa ge’caddy’ en ook ‘n bietjie gespeel, maar het eers ernstig begin om gholf te speel in 1998 – nadat ek ‘n stel stokke gewen het tydens ‘n Gelukkige Trekking-kompetisie wat deel gevorm het van die SA Ope.
Vraag: Wat het jou aangetrek van die spel gholf? Waarvan het jy gehou?
Buys: Ek het op ‘n myndorp (Stilfontein) groot geword en die gholfklub speel ‘n groot rol in die sosiale lewe van inwoners van ‘n myndorp. Dis die plek waar families naweke byeengekom het. Behalwe dat ek as jong seun my pa se sak gedra het wanneer hy gespeel het, het ek en my vriende ook ure op die oefensetperk deurgebring. Die gholfklub was ‘n plek vir samesyn asook ‘n plek om nuwe vriende te maak. ‘n Ander aantreklike aspek van gholf is die voorgee-stelsel, want dit bied enigiemand die geleentheid om kompeterend met mekaar (asook teen mekaar) te kan speel.
Vraag: Van wanneer af is jy lid by die Stellenbosch-gholfklub?
Buys: Ek is lid vanaf 2001 nadat ek 2 jaar lid in die Strand was.
Vraag: As nuwe lid - saam met wie het jy gereeld gespeel en het die manne vir jou laat tuis voel by die klub?
Buys: Ek het aan die begin meestal saam met Eben Archer gespeel en om die waarheid te sê ons speel vandag nog baie kere saam. Dit is hy wat vir my oorreed het om by Stellenbosch aan te sluit. Ons het maar ons name opgesit op Saterdag se lys en deur die jare saam met verskeie ander ouens gespeel. Dit is ‘n lekker manier om ander lede te leer ken en so raak jy al hoe meer tuis by die klub.
Vraag: Wie is tans jou moeilikste opponente by die klub en vertel vir ons hoekom is die manne so moeilik om te klop?
Buys: Dit is nogal ‘n moeilike een om te beantwoord. In my beginjare by die Stellenbosch-klub was Dawie van Emmenis en Neels Schutte ‘n gedugte paar as teenstanders. Vandag is Gerrie Jonas en wie ookal sy maat is waarskynlik ons moeilikste opponente. Almal weet hoe kompeterend Gerrie is en hoe hy ‘n speelmaat kan motiveer om die beste uit hom te haal.
Vraag: Moes jy al 'n piering melk drink in die klubhuis na 'n ronde met Eben Archer as jou teenstander?
Buys: Nog nie as ‘n teenstander nie, maar wel as ‘n speelmaat. Dit was die dag toe ek en Eben teen Sakkie de Klerk en Vince Nienaber gespeel het. Sakkie het daardie dag gekook en ‘n netto telling van 63 gespeel. Sakkie en Vince se 52 stableford-punte was genoeg om ons uit die pierings te laat drink.
Vraag: Watter afdeling van gholf is jou sterkpunt (dryfspel; ysterhoue; kapwerk of sethoue)?
Buys: Ek sal sê my dryfspel en ysterhoue.
Vraag: En watter afdeling van die spel sal jy graag wil verbeter?
Buys: My sandspel verseker.
Vraag: Wat is vir jou die mees uitdagende putjie op die baan?
Buys: Die vierde putjie bly maar altyd intimiderend vanaf die bof omdat die skoonveld so nou is. Gewoonlik het jy ook ‘n lang tweede hou na die setperk.
Vraag: Is daar enige baanveranderinge wat jy meen noodsaaklik is?
Buys: Ek dink nie daar is in hierdie stadium enige verandering wat “noodsaaklik” is nie, maar ek sou tog graag wil sien dat die 8ste putjie dalk vanaf die sewende se bof gespeel word as ‘n syfer 4 en dat of die 1ste putjie of die 10de putjie na ‘n syfer 4 verander word.
Vraag: Wat beindruk jou tov die huidige toestand van die baan?
Buys: Die setperke – veral die manier hoe vining dit herstel het na die “hollow-tining.”
Vraag: Watter ander bane wat jy gespeel het, het jou baie beindruk en gee jou redes daarvoor.
Buys: My gunsteling is by verre Simola en dit is maar net die ligging wat my geweldig beindruk altyd.
Vraag: Wat is jou laagste bruto telling wat jy al gespeel het en op watter baan was dit.
Buys: 78 op Stellenbosh
Vraag: Laagste voorgee ooit?
Buys: 11
Vraag: Huidige voorgee?
Buys: 14
Vraag: Wat dink jy van die huidige wynlys by die Stellenbosch-klub en wat is jou gunstelinge?
Buys: Die nuwe iniasitief van die spesiale wynlys is fantasties - Stellenbosch is immers die hartland van wyn in Suid-Afrika. Omdat daar so baie goeie wyne op die wynlys is, is dit moeilik om een uit te sonder. Die beste antwoord is waarskynlik ‘n gereelde opmerking van ‘n goeie vriend: “Die beste wyn is die ene reg nou in my glas.”
Vraag: Het jou nog ideale (mikpunte) wat jy wil bereik in gholf - vertel ons meer daarvan.
Buys: In hierdie stadium wil ek net meer gholf speel.
Vraag: Wat beteken gholf as mens vir jou?
Buys: Gholf het my baie geleer oor die lewe en wat belangrik is. Alles wat gebeur op die gholfbaan is deur my eie toedoen, want niemand anders as ek het die bal geslaan nie. Daarom het geleer om ‘n mooi hou te koester, maar terselfdertyd ook op my tande te byt wanneer ek ‘n slegte hou speel, want dis ekself wat dit moet gaan regmaak met die volgende hou. Hierdie dinge van gholf is vir my sinoniem waaroor die lewe eintlik gaan.