Tallies Taljaard is ‘n “Man for All Seasons.” ‘n Man wat in sy gholfloopbaan al vier kolhoue behaal het, ‘n keer klubkampioen was van Stellenbosch en ook Burgmeester van Stellenbosch was. ‘n Man wat hom nie laat afsit as dit reën op die gholfbaan nie.
Hierso volg my onderhoud met hom:
VRAAG: Hoe het dit gekom dat jy begin het om gholf te speel.
TALJAARD: Nadat ek ophou rugby speel het, het ek en my vrou vir lank tennis gespeel. My broer, wat ‘n baie goeie gholfspeler was, het een keer op besoek aan my in Johannesburg my ‘n Sondag genooi om ‘n paar gholfballe op ‘n rugbyveld te slaan.
Hy het my ‘n yster gegee met die opdrag: “Slaan die bal.”
Nadat hy ‘n paar keer vir my raad gegee het, was sy woorde aan my: “Jy kan maar gaan speel – jy kan dalk regkom”.
Ek het besluit om reg te begin en lesse gaan neem by Jock Verwey, Gary Player se skoonpa, wie se oefenfasiliteit regoor die Wes-Park begraafplaas in Johannesburg geleë was.
Na drie maande se baie oefening en lesse het ek by die munisipale gholfklub (Marks Park – langs Royal Johannesburg) aangesluit en na ‘n paar kaarte het ek my eerste voorgee van 15 verwerf. Twee jaar later het ek verhuis na Stellenbosch toe ek ‘n betrekking hier aanvaar het en het in 1972 aangesluit by die gholfklub. Ek is nou 45 jaar lid van Stellenbosch Gholfklub.
VRAAG: Wie was jou gereelde gholfmaats in jou beginjare as lid van die Stellenbosch-klub?
TALJAARD: Toe ek by Stellenbosch-klub aangesluit het, het ek met my eerste klompie kompetisies veral saam met die ouer lede plek gekry. Hierdeur het ek baie van die interessanste mense op Stellenbosch ontmoet. My samesyn met hierdie mense op die gholfbaan asook in die klubhuis is van die dinge wat ek vandag die meeste koester. Hier dink ek aan manne soos Louis du Plessis, Afdelingsraad-sekretaris, Louw van der Merwe, bestuurder van Boland Bank, Maurice en David Potash van Stellenbosch Meubels, Willie Perel, eienaar van Stellenbosch Boubenodighede, Hannes Myburg, baas van Meerlust, Jannie Neetling en Piet Carinus albei wynboere, Jan Maartens, Louis Heunis, die apteker, Piet van Straaten, die tandarts, oom Dirk Hertzog en vele meer.
Ek vergeet ook nie die tyd toe die klub in 1983 ‘n ommekeer beleef het en ek die voorreg gehad het om taamlik gereeld saam met manne soos Clive Wagner, James Newman en Gordon Schultz te kon speel nie. Alec Vellissariou, as klubkaptein, het ‘n groot aandeel daarin gehad om hierdie ommekeer by die klub moontlik te maak. Ek het ook gereeld saam met Ron Sanderson, Carel Nel, Len Olivier en Mike Botha gespeel.
Die meeste van die tyd het ek egter my naam alleen opgeskryf, met die gevolg dat ek deur die loop van die jare met feitlik alle lede van die klub saamgespeel het.
VRAAG: In jou beginjare - vir watter bedrag geld het julle gewoonlik gespeel - die onderlinge weddenskap in die vierbal? Is daar ook vir balle gespeel in die onderlinge weddenskappe?
TALJAARD: Die gewildste weddenskappe vroeër jare was om gholfballe op die spel te plaas.
Dit weddenskap was gewoonlik, half-half-een in balle. Daarby het jy ook vir ‘n “bof-bal”, sowel as ‘n naaste aan die pen gespeel. Vir die “bof-bal” het jy ‘n muntstuk opgeskiet om te bepaal wie die eerste bof kry, en as jy en jou maat die volgende vyf putjies voor bly afslaan het, het jy ‘n bal verdien maar dan kon die opponente dubbelleer, wat beteken het dat indien hulle een van die volgende vier putjies gewen het, die bal dan gekanselleer is. Die proses is op die volgende nege herhaal. Indien jy die halwe bal wat jy op die nege verwed het byvoorbeeld reeds op die sesde of sewende putjie verloor het, kon jy natuurlik ook dubbelleer, wat beteken het dat jy een van die volgende paar putjies moes wen om daardie halwe bal weer terug te wen. ‘n Klompie “ouer’ manne het ‘n wyer verskeidenheid van weddenskappe gehad en het selfs op die “ boek gespeel” en aan die einde van die jaar reggemaak.
Wenners is op alle gholfdae met balle betaal, so die meeste gholfspelers het ‘n groot voorraad balle gehad. Daar was ook ‘n tyd toe elke speler by inskrywing ‘n bal in die “balpot” moes deponeer, waaruit die wenners dan betaal is. As jou voorraad balle opgeraak het, kon jy gewoonlik by ‘n vriend ‘n dosyn of wat leen of koop teen ‘n laer prys as wat die klub jou sou vra.
So het dit gekom dat ek eendag in ‘n vierbal was waarin David Potash, een van die “ouer” manne, een van my opponente was. Potash het gewoonlik groot weddenskappe aangegaan – heelwat groter as die gewone.
Die spel het begin met die “beskeie” weddenskap van half-half-een. Soos David en sy maat putjies verloor het, wou David aanhou dubbelleer , wat ek toe persoonlik op my geneem het. Op die bof van die 18de het David my reeds 20 balle geskuld. Hy vra toe weer vir ‘n dubbellering, wat ek volgens gebruik kon weier, maar aangesien ek niks te verloor gehad het nie, aanvaar ek die weddenskap. Hy het daardie putjie ook verloor en op die einde skuld hy my dus 40 balle.
Na die spel vra hy ek moet saamstap na sy motor. Daar gekom maak hy die kattebak oop en daar lê seker so sestig balle. Almal nog toegedraai, maar uit die toestand van die balomhulsels kon jy sien dat die balle al geruime tyd in die kattebak lê en rondrol het! Die meeste balle het maar taamlik verflenter gelyk. Ek het die bestes uitgesoek.
Die gewildheid van balle as betaalmiddel het mettertyd getaan omdat sommige “skarminkels” ou balle in sellofaan toegedraai het of ‘n ou bal in die dosie geplaas het. As ek reg onthou het die balweddenskappe in onbruik verval toe die klub nie meer self die gholfwinkel bestuur het nie, asook toe daar weggedoen is met die “balpot” tydens prysuitdeling. Ander lede kan dalk meer lig werp op die situasie. Ek persoonlik het vir ‘n hele paar jaar my jaargelde betaal deur opgepotte balle terug te verkoop aan die klub se winkel. Natuurlik is net die balle aanvaar wat in prima kondisie was!
VRAAG: Watter soort gholfballe was in daardie jare gewild? En was dit nog die klein Engelse bal of die groter Amerikaanse bal?
TALJAARD: In my beginjare as gholfspeler het ek met Penfold- en Dunlop 65-gholfballe gespeel.
(Die ouer manne het baie stories gehad oor hul verfstelletjies wat hulle gebruik het om hulle gholfballe te verf en nuut te maak tydens en na die oorlogsjare, toe nuwe balle nie maklik verkrygbaar was nie.)
Ek persoonlik en baie ander spelers was maar lugtig vir die groter bal, omdat, so het ons geglo, afstand ingeboet sou word. Dit het ‘n tyd geneem voordat die groter bal algemeen in gebruik was.
VRAAG: In 1977 was jy Stellenbosch se klubkampioen. Dit moet sekerlik 'n hoogtepunt in jou gholfloopbaan wees? Vertel ons meer van die toernooi.
TALJAARD: Ek het geen ambisie gehad om as die kubkampioen van Stellenbosch Gholfklub gekroon te word nie, vir die eenvoudige rede dat ek nie myself goed genoeg geag het om die beker te verower nie. Daar was geen persoon, wat daardie dag gespeel het, wat meer verbaas was as ekself, toe dit aan die einde van die dag duidelik word, dat ek die beste telling ingebring het nie.
My voorgee, dink ek, was op daardie stadium ‘n sewe/agt. Ek weet nie wie almal diè dag gespeel het nie, maar ek twyfel of van die vorige jare se wenners deelgeneem het.
Daar is egter een faset van die dag wat ek baie goed onthou. Dit het feitlik die hele dag saggies gereën. Die kompetisie is oor 36 putjies, op een dag beslis.Toe ons die middag afslaan was sommige setperke onder water. Die 1ste se setperk was vol poele water en die pen het in die middel (links) gestaan – so half op ‘n eilandjie.
Ek was sowat twee meter kort met my tweede hou en my kapskoot het ongeveer ‘n meter kort van die pen geval, die water het die bal se spoed gebreek en dit het ingerol vir ‘n voëltjie. ‘n Totale gelukskoot .
Die setperke was so nat dat wanneer jy geset het, het die druppels water agter die bal opgeskiet. Ek onthou ek het daarna nog ‘n kapskoot vir ‘n voëtjie ingerol, maar verder kan ek nie genoeg van die spel onthou om ‘n betroubare verslag daaroor te lewer nie! Die 1ste putjie sal my egter altyd bybly!
Ek is vas oortuig dat die reën daardie dag die rede was dat ek gewen het. Die nat setperke het baie manne grensloos frustreer.
VRAAG: Jy is iemand wat jou nie laat afsit deur reën nie?
TALJAARD: Tussen 1972 en 1997 kan ek nie onthou van een gholfwedstryd op Stellenbosch wat gekanselleer is weens reën nie. Daar was altyd manne wat klaargemaak het - al was dit net een of twee vierballe.
Daar was ‘n dag dat net een vierbal klaargemaak het. Daardie vierbal het sommer die eerste en tweede prys opgeëis! Deesdae is die manne bang hulle kry verkoue as daar ‘n teken van reën op die gholfbaan is!
Ek het verlede jaar juis op ‘n reëndag, in ‘n vierbal gespeel wat “my op die baan vergeet” het.
Dit het so gebeur.
Ons was op die veertiende se skoonveld en die reën het op daardie stadium erg begin uitsak. Ek het my tweede hou erg na links getrek en kon nie dadelik my bal kry nie. Ek moes alleen soek (wie sien nou kans om ‘n ander man se bal te soek in harde reën na ‘n hou wat nooit so skeef geslaan moes gewees het nie!) Die ander manne het solank aanhou speel terwyl ek vir die bal gesoek het.
Toe ek my bal kry het ek my volgende hou gespeel. Met my sambreel oor my kop het ek nie links of reg gekyk nie en uiteindelik by die setperk aangekom. Daar was niemand op die setperk en ek het aanvaar my maats het die putjie sonder my klaar gemaak.
Toe ek egter op die 15de se bof kom en vir die eerste keer ‘n bietjie wyer begin kyk sien ek nie ‘n teken van my drie gholfmaats nie!
Dit is toe dat ek die drie ouens opmerk – daar doer in die verte, langs die eerste skoonveld in die paadjie, op pad na die klubhuis. Ek dink toe wel, ek ken van speel in die reën, so ek gaan klaarmaak. Die reën het toe wel effens minder intens neergesak. Ek het klaargemaak en nadat ek gaan stort het, het ek in die kroeg aangesluit by my vierbal-maats – daar was groot verbasing op hul gesigte! Hulle het aangeneem dat ek, sommer sonder om te stort, direk huistoe is.
VRAAG: Het jy 'n gunsteling setstok gehad ?
TALJAARD: Ek het vir baie jare gespeel met ‘n Gooseneck-setstok, en gebruik tans ‘n Odyssey op die setperke. Ek is nou nog spyt ek het die Gooseneck weggegee.
VRAAG: Wat was jou gunsteling stel ysters waarmee jy in jou lang gholfloopbaan mee gespeel het?
TALJAARD: Ek het begin met ‘n tweedehandse stel Gary Player-stokke. My huidige stel ysters (LT 1200’s Wilsons) het ek 25 jaar gelede gekoop vanaf Ernie Blommaert.
VRAAG: Jy het ook lank liga-gholf gespeel vir die klub. Wie was jou gereelde liga-maats en watter hoogtepunte het julle behaal in liga-gholf?
TALJAARD: Ek dink ek het 21 jaar lank Brodie-liga gespeel. Die opsie om Krugerliga te speel is op ‘n stadium my aangebied (nadat ek die klubtitel gewen het) maar ek het dit van die hand gewys, want in die Brodie-span was daar ‘n baie goeie gees en die span het ‘n hegte eenheid gevorm. Dieselfde spelers, met enkele plaasvervangers van tyd tot tyd, het jare lank in die span gespeel. Dit het heel moontlik daartoe bygedra dat ons die Brodiebeker (met Carel Nel as kaptein) drie jaar na mekaar gewen het.
VRAAG: Het jy al ‘n kolhou behaal?
TALJAARD: Ja - ek het vier kolhoue behaal. Drie van hulle op Stellenbosch en die ander een op George se gholfbaan.
Die ene op George is op die 13de putjie behaal. Ek het daardie dag saam met wyle oom Dirk Hertzog gespeel – hy het gereeld in daardie omgewing gaan vakansie hou.
Ek het ‘n aparte telkaart vir daardie dag se spel ingevul wat ek deur oom Dirk laat teken het, om as ‘n aandenking te bewaar.
Een van my ander kolhoue het ek op die 15de behaal tydens ‘n Stellenbosch Famers Winery-gholfdag.
Famers Winery het ‘n baie groot prys op die spel geplaas vir die speler wat daardie dag ‘n kolhou kon behaal – die wenprys was ‘n jaar se voorraad van Gordons Gin! Toe my bal op die setperk hop en daarna in die blikkie beland vir ‘n kolhou was daar natuurlik ‘n groot gejuig. Iemand van Famers Winery het daardie dag foto’s geneem en my kolhou is waarskynlik ook op kamera vasgelê.
Terug in die klubhuis het almal al geweet van die groot prys wat ek gewen het, en daar is druk bespiegel hoeveel is ‘n jaar se voorraad van gin.
In elk geval, die volgende Maandag het ‘n Famer Winery-voertuig by my huis gestop en 60 bottels Gin afgelaai - sestig bottels Gin vir iemand wat nog nooit enige spiritualieë gedrink het nie. Ek was ook nie van plan om te begin nie.
Ewenwel, die Gin is gestoor. Die volgende Saterdag by die gholfklub, kom ‘n bekende klublid en goeie gholfspeler, Theuns Pieterse, na my en vra of ek nog die Gin het. Ek sê Ja en hy bied hy my R300 daarvoor aan. Ek aanvaar die aanbod en beskou die saak as afgehandel.
Na verloop van tyd vra ek hom by die klub, hoe sy voorraad nou staan: “Nee man” kom die antwoord , “dit het net drie maande gehou”. Sommige wysneuse by die klub het gekorswil dat ek die firma moes aanspreek vir die ander 180 bottels!
Die ander twee kolhoue is op die 7de en 13de putjies behaal.
Die drie sertifikate, het ek aan die vorige bestuurder besorg, sodat rekord daarvan op die bord geplaas kon word. Met my latere navraag oor wanneer dit op die bord aangebring sou word, is ek meegedeel dat hulle nie weet wat daarvan geword het nie. Hy het dit ongelukkig verlore laat raak en daarmee is my enigste bewyse vir altyd verlore. Louis Destroo het dit op die internet prober opspoor, maar sonder sukses
VRAAG: Laagste voorgee ooit?
TALJAARD: 7
VRAAG: Huidige voorgee?
TALJAARD: 17
VRAAG: Laagste telling?
TALJAARD: 70
VRAAG: Wat is jou opinie oor die huidige toestand van die baan?
TALJAARD: Met die droogte en gevolglike waterbesparingsmaatreëls in plek, kan ons nie beter skoonvelde verwag nie. Al kry ons die komende winter goeie reën, gaan die herstel van die kaal kolle op die skoonvelde ‘n opdraande stryd wees. Wat die setperke betref – die klublede kan trots wees op die uitstekende toestand waarin die setperke tans verkeer, ten spyte van die droogte.
VRAAG: Jy was ook lank op die Stadsraad van Stellenbosch en ook Burgemeester. Het jy darem in daardie jare tyd gehad om steeds gholf te kan speel?
TALJAARD: Ja, ek het wel gespeel, so veel as wat ek kon inpas in ‘n besige program. Enige person met baie hooi op die vurk, pas maar aan of hy sink. Om my werk-, Stadsraad- en familieverpligtinge na te kom, moes ek maar aanleer om baie laat in die aand te gaan slaap en 05:00 weer op te staan. Een faset van my leefstyl moes ek drasties aanpas was my gereelde gym en draf. Waar ek dit voorheen in die middae na werk kon inpas het vergaderings gereeld inbreuk daarop gemaak en moes ek ‘n plan maak. Daardie aktiwiteite het ek toe (vanaf 1978 toe ek op die Stadsraad gekom het) verskuif na vroegoggend en ek handhaaf vandag nog steeds dieselfde program.
VRAAG: Wat beteken gholf vir jou as mens?
TALJAARD: Ek het onlangs tydens ‘n gholftoernooi op Knysna na 25 jaar weer iemand uit die Vrystaat raakgeloop met wie ek gereeld in die sewentigerjare tydens vakansies op George saamgespeel het. Ons was bly om mekaar te sien en het onder meer gesels oor ons suksesvolle poging om erkenning vir Afrikaans te kry tydens die prysuitdelings na die jaarlikse Syney/Boer-wedstryde vroeg in Desember op die George-gholfbaan, omrede die besoekers se span uitsluitlik Afrikaanssprekend was.
Jy speel as besoeker op ‘n plattelandse baan en na ‘n gesellige verkeer na die spel gee die boer in jou vierbal (wie jy nie voor die tyd geken het nie) vir jou ‘n bottel Muskadel en sê: “ Probeer dit en laat my weet hoe dit smaak”. Elke gholfspeler kan sulke voorbeelde aanhaal van wat hulle op sosiale vlak ervaar het. Vrienskappe en kennnisse wat ‘n mens sluit en die samesyn na kompetisies maak jou ‘n ryker en meer volledige mens.
Die waarde van gholf as ontspanning en oefening word dikwels onderskat. Ek kan nie dink aan ‘n ander sportsoort waar ‘n persoon tussen 70 en 80 so aktief en mededingend kan wees as in gholf nie. Op my leeftyd is dìt vir my van kardinale belang en baie beter as op die stoep sit en koffie drink.