Willem Oosthuizen

Vroeër jare was dit algemene gebruik dat gholfspelers na ‘n kompetisie-ronde ‘n sportbaadjie en das aangetrek het vir ‘n drankie saam met hul spanmaats, asook vir die prysuitdeling. Een van die weinige gholfspelers wat steeds hierdie tradisie laat voortleef is Willem Oosthuizen van Stellenbosch-gholfklub. Ek het ‘n interessante gesprek met hierdie 86-jarige man gehad oor gholf.

VRAAG: Waar het jy begin om gholf te speel?
OOSTHUIZEN: Ek het al die jare vir die Poskantoor gewerk en het ‘n bietjie gespeel op plekke soos Carnavon en Heidelberg waar ek afgelos het, maar my eintlike gholf het begin toe ek op Stellenbosch in die Poskantoor kom werk het. Ek het by die Stellenbosch-gholfklub aangesluit op 1 Julie 1967 en is dus al langer as 50 jaar lid van die klub!

VRAAG: Wat was jou ledegeld toe jy aangesluit het?
OOSTHUIZEN: Dit het my R15 gekos om aan te sluit en my jaargelde was ook R15.

VRAAG: Saam met wie het jy gereeld gholf in jou beginjare by die klub gespeel?
OOSTHUIZEN: Ek het nog altyd daarvan gehou om my naam op te sit en speel saam met enige ander speler wat ook sy naam opskryf. Nogtans het ek gereeld saam met manne soos Martin en Louw van der Merwe (bankbestuurder), asook Stanny van Rensburg en Louis Heunis, ‘n apteker, gespeel.


VRAAG: Hoe het die Stellenbosch-baan in daardie jare gelyk?
OOSTHUIZEN: Rof. Baie rof. Daar was orals bome en die gras het sommer baie hoog gegroei in die ruveld. Verder was daar volop diertjies op die baan en ons het baie kere gesien hoe die hasies en bokkies oor die skoonvelde hardloop. Slange is ook gereeld gesien - veral die geel kobra.

VRAAG: Is daar putjies wat daardie jare baie anders uitgesien het, as hoe die putjies vandag lyk?
OOSTHUIZEN: Ja baie. Die 9de putjie het in daardie jare baie anders gelyk. Daar was links van die setperk groot bome wat die setperk baie goed beskerm het. Later het die bome omgewaai en sandkuile is opgerig. Ek onthou goed dat ek een van my beste ysterhoue ooit op daardie putjie gespeel het. Dit was ‘n dag saam met die tandarts Abraham Vorster. Ek moes die bal oor die groot boom links van die setperk slaan en in daardie jare was my lyf losser en ek het met ‘n 9 yster die bal gelig tot op die setperk.

VRAAG: Wat was jul onderlinge weddenskappe in daardie jare?
OOSTHUIZEN: Ons het gewoonlik gespeel “halve, halve, one” Dit het beteken jy speel die eerste nege vir ‘n “halwe bal”. Die tweede nege vir nog ‘n “halwe bal”. En die ouens wat die wedstryd gewen het, wen ‘n nuwe bal. Dws – twee nuwe balle kon gewen word as jy en jou maat skoonskip maak!

VRAAG: So die prys van die weddenskap was balle en nie geld nie?
OOSTHUIZEN: Ja – jy het balle gewen wat in ‘n soort van selofaan-plastiek toegedraai was. Hier en daar het dit gebeur wanneer jy daardie plastiek afhaal kom jy agter jou opponent het vir jou ‘n ou bal gegee in plaas van ‘n nuwe bal. Dit was maar die uitsondering op die reël en die oortreders is ook maar later vergewe!


VRAAG: Het julle in daardie jare gewoonlik ‘n baadjie gedra na ‘n ronde gholf?
OOSTHUIZEN: Ja - dit was die gebruik dat jy ‘n baadjie sou dra en selfs ‘n das. Ek het nog al die jare daarvan gehou om my baadjie en das te dra. Ek is trots op my baadjie met die Stellenbosch-gholfwapen op en voel gemaklik en lekker daarin. Soms maak die ouens ‘n grap met my oor dat ek nog ‘n baadjie dra. Dan sê ek altyd – die baadjie is betaal en ek mag hom mos dra! Ander ouens dra truie om hul warm te hou – my klub-baadjie doen sommer daardie taak ook baie goed!

VRAAG: Is daar gebruike by die gholfklub wat deur die jare weggeval het, en wat jy meen is iets wat die moeite werd was om eintlik te behou?
OOSTHUIZEN: Ja – vir baie jare was daar ‘n wit kennisgewingbord met mooi netjiese lyne aangebring teen die muur in die klubhuis. Al die spelers wat aan die kompetisie deelgeneem het se name asook afslaantyd is vooraf neergeskryf op hierdie kennisgewingbord . Nadat jy jou 9 putjies voltooi het, het jy en jou maat jul telling neergeskryf en jy het dit ook gedoen na 18 putjies. So jy kon na ‘n ronde gholf in die klubhuis sit en na al die spelers se tellings kyk. Dit was vir my baie interessant en lekker om dit te kon doen en ek is spyt dit is weggeneem.

VRAAG: Hoe gereeld speel jy nog gholf?
OOSHUIZEN: Ek speel nog baie gereeld. Ek het tot laasjaar elke 14 dae minstens ‘n keer of wat gespeel. Hierdie somer is ‘n bietjie warm vir my en ek speel minder, maar ek het laas Maandag nog in die Paarl aan die Sages-kompetisie gespeel. Ek geniet dit nog baie om te speel.

VRAAG: Saam met wie speel jy tans gereeld?
OOSTHUIZEN: Ek hou nog steeds daarvan om net my naam op te sit en speel saam met wie ookal ook sy naam by my opsit. Dit is vir my baie lekker om nuwe mense te ontmoet en daarom speel ek nie graag die hele tyd saam met dieselfde ouens nie. Dit is vir my nogtans baie lekker om saam met my goeie ou vriend Nico Laubscher te speel. Ek en Nico het onlangs ‘n baie lekker ronde gehad saam met ‘n Engelsman en sy vrou en twee weke daarna het ons toevallig hulle weer op die gholfbaan ontmoet en baie lekker gesels. Dis die dinge wat vir my so spesiaal is van gholf – jy ontmoet nuwe mense en maak so ook nuwe vriende.

VRAAG: Stap jy die baan wanneer jy speel?
OOSTHUIZEN: Ja - dis ook een van die dinge wat ek baie geniet van gholf, naamlik om in die natuur te kan stap. Ek trek my eie karretjie self en hoop om dit nog vir lank te kan doen.

VRAAG: Huidige voorgee en laagste voorgee ooit?
OOSTHUIZEN: Tans speel ek vanaf ‘n 36-voorgee en jare terug was ek ‘n 17-voorgee.

VRAAG: Watter soort drankie geniet jy na ‘n ronde gholf?
OOSTHUIZEN: Vroeër jare het ek van ‘n biertjie gehou, maar die afgelope jare geniet ek graag ‘n lekker glas rooiwyn.

VRAAG: Wanneer het jy afgetree?
OOSTHUIZEN: Dit was in 1992. Ek was toe Posmeester by die Roggebaai-tak. Voor dit was ek 12 jaar lank assistent-posmeester op Stellenbosch asook posmeester op Somerset-Wes vir ‘n paar jaar. Ek woon al vir baie jare in Boston, Bellville, maar het altyd lid gebly van die Stellenbosch-gholfklub. Vroeër jare het dit my gou geneem vanaf Bellville tot die gholfbaan, maar vandag is die verkeer erg en ek moet ‘n uur en ‘n half voordat ek speel, ry vanaf die huis.

VRAAG: Kyk die gholfklub darem mooi na lede soos jy wat al meer as 50 jaar lid van die klub is?
OOSTHUIZEN: By ‘n kapteins-ete ‘n paar jaar terug het ek en ander manne soos Duimpie Bayly, Gys Steyn en Jack Thirion wat ook al lank lid is van die klub ‘n spesiale sertifikaat gekry. Ook kry ons darem ‘n goeie afslag op ons ledegeld.

VRAAG: Wat is dit wat gholf vir jou so aangenaam maak?
OOSTHUIZEN: Die spel self. Die feit dat ek lekker in die natuur kan stap. En dan geniet ek die kameraderie wat saamgaan met gholf. En dit is vir my baie lekker om nuwe mense te kan ontmoet deur gholf.